Local newsNews

Manalleen en besonder gemaklik daarmee

Die een is bekend as 'n akteur wat uiteenlopende rolle vertolk, die ander, dat hy van meet af een rol tot die uiterste speel - homself.

Neels van Jaarsveld en Rian van Heerden is die twee vreeslose manne wat albei vanjaar by Innibos te sien is in eenmanstukke, onderskeidelik in Op my eish! En Rian met Rian.

Elke keer wanneer Neels van Jaarsveld ‘n solostuk aanpak, belowe hy homself dis nou regtig die lááste keer. Dan swig hy weer en stem in: “Dis nou die vierde een. Dit hou my op my tone, hou my brein aan die gang, leer my om te fokus, te verfyn, te vermaak, te groei, as mens, as akteur.” Omdat sy vrou die klank en beligtig behartig, dra dit ook tot die ervaring by. “Ons hou van reis. En sy is ‘n baie aangename reismaat.”

In Op my eish! vertel Neels sy eie verhaal oor hoe dit voel om feitlik oornag volksbesit te word. Die stuk is ‘n backstage pass na die beste en snaakste stories van sy lewe, die vermaaklikheidsbedryf en sy kinderdae. Maar wat maak ‘n solostuk anders? “Ek reken enige vorm van toneelspel is uitdagend. Of jy nou jouself speel of iemand wat baie ver verwyderd is van jou, dit bly ‘n uitdaging. Die skryf het dié keer nogal maklik gekom. Maar ek moes eerlik en opreg bly. Dit was uitdagend. Die kykers gaan iets van my leer wat baie min mense al weet.”

Neels vertel hy moes vanweë sy klein bou homself van jongs af gedurig verdedig met die beste wapen tot sy beskikking: sy tong. Dié het hy goed geslyp in die dramadepartement van die Universiteit van Stellenbosch waar hy as die beste student aangewys is. Dit was die eerste van ‘n rits pryse: By die KKNK wen hy ook die Slurpie-Kanna vir beste nuweling, later ‘n Kanna vir beste spel saam met Quentin Krog in Marthinus Basson se Boks, daarna ‘n Fiësta- en ‘n Aardvark-toekenning vir innoverende werk en verskeie Fleur du Cap- en Silwerskermfees-nominasies.

Meer onlangs is hy bekroon met ‘n Safta-prys vir sy rol as Willem Pretorius in die bekroonde Bloedbroers. “Ek het pas deur ‘n uitstekende tyd gegaan in terme van films en dit was fantasties.

Dit gaan interessant wees om te sien wat volgende is. Enige hoofrol met ‘n goeie teks, regisseur en talentvolle, hardwerkende medespelers is ‘n droomrol,” sê Neels.

Vir Rian, wat einde Junie sy laaste sprak as aanbieder van JacarandaFM se The Complimentary Breakfast sal sprook, blyk sy droomrol te wees om ná meer as 1 867 onderhoude die mees openbarende een te voer: met homself. “Ek het nou vir lank ‘n goeie platform gehad by die radio, en sien uit na die kans om ‘n nuwe, ander een te skep… sommer vir die fun.”

Hy erken hy is nogal “verroes vir die verhoog” nadat sy laaste optrede in 2011 was, maar dit laat hom beslis nie terugdeins nie. “Wat lekker is van ‘n onderhoudstruktuur is dat dit die kans bied om sekere kwessies aan die lig te bring soos ‘n mens op geen ander manier kan nie.” Rian gaan Rian skynbaar nie laat wegkom nie en sal aandring op eerlik en snydende antwoorde oor van gewig veloor tot gays, tot saansdansers en tokkelossies.

Ja, hy verwag dat iemand seker weer die saaldeur sal laat toeklap… omstredenheid is gewaarborg. Hy kon die opdrag vir dié eenmanstuk van Innibos nie weier nie. “Innibos was die eerste kunstefees wat destyds in 2006 waagmoedig genoeg was om my stuk Onbesny te laat speel.

Hulle is altyd oopkop oor produksies en dit wys hoe Innibos se hart vir die kunste klop.” Dit bly ook een van sy gunsteling-kunstefeeste: “Die mix is net reg tussen kuns en ‘n lekker partytjie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button