Local newsNews

Duisternis bring ‘n mens se ware kleure aan die lig

In Beurtkrag val die kollig op die donker plekke tussen geliefdes.

MBOMBELA – Donnalee Roberts en Ivan Botha se samespel op die silwerdoek is soos kaneelsuiker en pannekoek; dit wérk. Of, soos in die Innibos-verhoogstuk Beurtkrag, soos ‘n kers en blaker.

In dié drama is Donnalee en Ivan ‘n jong paartjie, Fransie en Jasper, wat die eerste keer saam intrek net om op die eerste aand in die nuwe huis deur beurtkrag getref te word.

Sonder die afleiding en gerusstelling wat elektrisiteit en ander tegnologie meebring, word dié twee gedwing om die donkertes in hul verhouding te konfronteer.

Volgens die akteurs was hulle op soek na ‘n stuk wat kompleks in storie én karakter was, maar “met ‘n eenvoud in die wêreld waarin dit afspeel”.

Die uiteinde was Beurtkrag, wat aanvanklik ‘n kortfilm vir die Silwerskermfees was waarna die teks verwerk is vir die verhoog.

Stiaan Smith het die oorspronklike teks geskryf en ook die eerste verwerking vir die verhoog gedoen, waarna dit verder deur Donnalee, Ivan asook die regisseur Jozua Malherbe en vermaarde toneelskrywer, Saartjie Botha verfyn is.

“Almal was saam met ons passievol om die stuk op die verhoog tot sy reg te laat kom.”

Hoewel die “kortsluitings” in die verhouding tussen die karakters oorwegend dié van twintigplussers is, is dit allermins slegs gerig op ‘n jonger gehoor.

“Ons ervaring is dat dit meestal paartjies is wat na die drama kom kyk en terugvoer oor hul eie ervarings gee. Ja, heelwat jong mense sê hulle is ook ‘Jasper en Fransie’ maar enigiemand wat al in ‘n verhouding was of is, en saam harde klippe gekou het, sal daarmee kan vereenselwig.”

Beurtkrag se ontvangs tot dusver by ander kunstefeeste het Donnalee en Ivan se verwagtinge oortref.

“Nie net die groot en verskei-denheid gehore nie, maar ook die terugvoer wat ons gekry het. Dit is werklik elke keer vir ons ‘n voorreg om te hoor hoe mense met die storie en die karakters vereenselwig en regtig saam lag en huil.”

Hulle sê voorts dis vir albei belangrik dat die gehoor voel hulle het waarde geput uit ‘n stuk waarin dié twee kragte saamsnoer.

“Ons werk ewe hard en is ewe passievol oor die toneelbedryf. Omdat ons dieselfde visie en fokus deel is daar ook ‘n wonderlike vertroue teenoor mekaar op die verhoog. En die onmiddellike terugvoering, daardie magic van in die oomblik wees en dit met ‘n gehoor te deel, is ‘n ervaring wat ons weer baie geniet.”

Hulle noem Beurtkrag ook ‘n “passieprojek” vanweë die goeie samewerking met die res van die produksiespan.
“Elkeen is in sy of haar eie reg kreatief en talentvol, en dit gee ons as akteurs die kans om op ons spel en die emosionele reis van die karakters, te fokus.”

Buiten Malherbe as regisseur, is die res van die span, Kobus Visser – klank en beligting, Bathoni Robinson – stelontwerp, Andraan van As – verhoogbestuurder, en Jessica Fitzcharles – produksiebestuurder.

Datum en tyd: Wo 5 Julie, 18:00; Do 6 Julie, 10:00; Vr 7 Julie,
14:00 en Sa 8 Julie, 16:00.
Gradering: Geen. Venue: Laerskool Bergland.
Tydsduur: 60 min. Prys: R127.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button