Kroegman is man op straat se klankbord
Teater wat jou vermaak, meevoer, verryk en verras was nog altyd een van die heuglikste ervarings wat 'n mens kan hê.

Die krag van die (wel)gesproke woord, so het die antieke Grieke al geglo, is en bly iets waaroor ‘n mens jou mateloos verwonder. En verwonderd staan ‘n mens wanneer ‘n vindingryke vervaardiger ‘n vernuftige teks, uithalerspel en beleë regie laat saamvloei. Soos in Dop, ‘n kragtoer in die kleine.
Frank Venter het nie op die ingewing van die oomblik ‘n vinnige drankie gaan maak nie. Hy is in die kroeg om iets te vier, en het heelwat op die hart. Die kroegman, Tim, word, soos dit ‘n kroegman betaam, teen wil en dank sy gehoor.
As die 56-jarige Frank sit, staan en waggel André Odendaal dié rol met oortuiging vol, en aan die ander kant van die toonbank is Wilhelm van der Walt, wat in 2015 so beïndruk het in Son. Maan. Sterre. in die rol van die 26-jarige Tim.

Die ouderdomsverskil kom onder meer ter sprake, maar so ook emigrasie, drome (onvervuldes sowel as nuwes), perdedrolle wat nie vye is nie en les bes spyt. Gesoute akteur wat hy is, vertolk André met beheersing die rol van Frank, die toenemende dronker-wordende siel met ‘n koevert onder sy arm en wat bevryding in ‘n vollerige glas dop vind.
Ja, sy lyne is slim en sy kwinkslae trefseker, maar die manier waarop hy dit alles omskakel in lyftaal, is merkwaardig. Sy tydsberekening is oortuigend vertraag – en eweso oortuigend rats. André en Wilhelm ontmoet mekaar as gelykes in hierdie spel van drinker en skinker.
Wilhelm is misterieus en minder van ‘n prater. Maar dit is juis die terughouding, die ongesêde, waarmee hy spanning skep en volhou, met iets soos ‘n aksent waarmee hy aanvanklik die gehoor aan die wonder het. Hy laat hom intrek in die wêreld van Frank – die vermaaklike én die wrewel daarvan – en dit is kort voor sluitingstyd dat die wêreld vir dié twee begin sin maak. As dít is soos ‘n debuutteks lyk, gaan ‘n mens nog heelwat van Retief Scholtz hoor.

Kosie Smit, vervaardiger van Kosie House of Theatre, was op soek na nuwe stemme in die bedryf toe hy op Retief se werk afgekom het. Retief het agt maande lank aan dié opdragwerk geskryf en geskaaf. Die eindproduk is gepoleerd en sjarmant. G’n wonder nie dat Retief se teks die Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks op die KKNK gewen het nie.
Sy uitweg met dié twee in die kroeg wat vasdraai en (genadiglik) nié al die antwoorde het waarna hulle so soek nie, is vernuftig. Die “antwoord” kom uit ‘n onverwagse (en objektiewe) hoek en is iets wat albei nodig het en waarop albei reageer.
Onsigbaar sigbaar is Sylvaine Strike se regie: in die glas wat die tik-tik van ‘n trein simuleer, in die draaiende sirkel waarop die hele toneel afspeel (as metafoor vir die bodem van ‘n glas, à la Koos Kombuis se “Onder in my whiskyglas” gesing deur Johannes Kerkorrel). ‘n Magiese kwaliteit is wat Strike in Dop bewerkstellig – teen dié tyd haar handelsmerk.
Dit is teater wat jou vermaak, meevoer, verryk én verras.

Dop is te sien in Nelspruit Primary se skoolsaal op Woensdag 5 Julie om 14:00, Donderdag 6 Julie om 18:00, Vrydag 7 Julie om 10:00 en Saterdag 8 Julie om 14:00. Let wel: Niemand jonger as 13 toegelaat nie (OB).
Tydsduur: 90 minute. Prys: R127.
