Local newsNews

Flennie laat gehore skoon nostalgies

Jy kan in die verse die verlange na Boplaas hoor

Baaiplek se skorriekoning, kompleet met sy varkleerbaadjie en klinknaelbroek, met sy morriedoring in haar styfspanblous en nog stywer spanbroek sou uitgelate kon dans op die rock en roll-weergawe van dié gedig waarin Boerneef hulle jare gelede ingedig het.

Dit is met dié uitbundige weergawe waarmee Frans Swart sy huldeblyk in die 50ste jaar ná Boerneef se dood, afsluit in Flennie die snare. ‘n Huldeblyk sonder styfheid, onopgesmuk, met ‘n blik op sy spel met taal, ‘n geleentheid om die karakters in Boerneef se skryfwerk te ontmoet en om na sy verse te luister.

Izak van der Merwe (1897-1967), ewe onopgesmuk as skrywer en digter bekend as Boerneef, het ‘n intense belangstelling gehad in die taal wat mense, dié in die Karoo en dié op straat in Kaapstad gepraat het. En daarmee saam ‘n dringende liefde vir die Karoo. Spesifiek vir Ceres en nog meer spesifiek Boplaas.

Van dié elemente wemel sy prosa sowel as sy poësie. In sy verhale kom ‘n mens Dirk Ligter teë en Andries Harlekyn, en ook Oom Fransman, Pensie en ‘n koei met die naam Heldermuis. En in sy verse hoor ‘n mens die verlange na Boplaas, maar daarmee saam die vermaning (sal ‘n mens dit so noem) dat ‘n jy nóú moet kyk, nóú moet ervaar. Vir latenstyd.

Dit is Chris Chameleon, Anna Davel, Daniella Deysel en Johny Klein wat in dié produksie die werk van Boerneef oortuigend vertolk, voordra, sing en dans. Dit doen hulle met die steun van ‘n gedugte span: Jaconel Mouton (klawerbord wat ook trekklavier, konsertina, kerkorrel, strykers en wat nie al nie word), Mauritz Lotz (akoestiese en elektriese kitaar) en Riaan van Rensburg (perkussie).

Benewens bestaande toonsettings soos dié van Pieter de Villiers (“Die berggans het ‘n veer laat val”), Laurika Rauch (“Nalekokers”), Awie van Wyk (“Geelkeelkanarie”) en Louis van Rensburg (“Voshaarnooi”) is daar nuwe toonsettings van Rudolph Pretorius en ‘n bindingsteks deur Frans. Dié teks gee biografiese inligting oor Boerneef en weef inderdaad die losstaande tablo’s aaneen.

Waar die balans byvoorbeeld in Chris en Mauritz se sensitiewe weergawe van Flennie die snare akkuraat was, kan ‘n mens nie dieselfde van al die nommers sê nie – veral in ensemble het die sangers by tye weggeraak. Met Boerneef heeltyd teenwoordig links van die verhoog in Mynderd Vosloo se portret kon ‘n mens kwalik help om te dink hy sou glimlag. Want sy woorde het geseëvier.

Flennie die snare is vandag om 15:00 te sien in die Hoërskool Nelspruit-ouditorium en môre om 15:00. Tydsduur: 90 minute. Prys: R142.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button