Local newsNews

Toneelstuk vind humor in die tragedie van hartbreek

Het jy al ooit gewonder hoe 'n traan oor die tragedies van die persoon, oor wie se wange dit rol, voel? Klara Maas se hart is gebreek is 'n unieke komedie uit die perspektief van Traan 10 450.

Verteller Wessel Pretorius en die witgeverfde David Viviers as Traan 10 450 het die liefdesverhaal en -tragedie van ‘n gewone meisie in ‘n skreeusnaakse produksie omskep in Klara Maas se hart is gebreek.

Wessel gesels met die gehoor en maak die byklanke terwyl David as Klara en die traan die toneel uitvoer.

Die pas van die toneelstuk is vinnig en hou die gehoor gevange tot die verteller se laaste woord.

Die verhaal volg Klara, ‘n doodgewone meisie met doodgewone probleme, wat Jan-Hendrik “Die Masjien” Booysen raakloop wanneer hy sy potlood in die biblioteek vergeet.

Wessel en David beeld Klara se verhaal uit.

Die tweetjies raak verlief en begin uitgaan, maar Jan-Hendrik het ‘n swakheid vir blondines en breek Klara se hart – met ‘n drieling Russiese akrobate.

Wessel en David beeld akrobate uit.

Die trane word tot diens opgeroep en Traan 10 450, die laaste van die reserwes, wag vir sy beurt.

Hy raak egter lief vir Klara en het 11 sekondes om dit aan haar te bewys.

David as Traan 10 450 en Wessel as Klara.

Die biografie van ‘n idealistiese traan einde op ‘n vreemde, maar positiewe noot, danksy die verteller se goedhartigheid.

Wessel en David kwyt hulle puik van hulle taak, met die eersgenoemde se snaakse en akkurate byklanke en laasgenoemde se danspassies en goeie mimiekspel.

Die produksie sal ‘n treffer wees onder enigiemand wat die pyn van hartbreek moes ervaar en graag daaroor wil lag.

Kom hoor gerus wat Klara en Traan 10 450 alles aanvang in die Mhoba Rum Boma-kuierteater vandag om 14:00 en môre om 11:00.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button