Nuwe taxi’s bring fondse vir verswakte bejaardes
Met die onhulling van hulle nuwe vloot minibustaxi's, moedig Citybug, die Mbombela gemeenskap aan om hul harte en sakke vir bejaardes by die Mpumalanga se verswaktesorgsentrum oop te maak

MBOMBELA – Citybug Shuttle Service het Maandag ‘n vloot van 15 minibustaxi’s bekendgestel, en vir elke voertuig sommer R1 000 aan Mpumalanga se verswaktesorgsentrum geskenk.
“Ons is ‘n klein gemeenskap, en as ons iets doen, probeer ons teruggee,” het Jacques Esterhuizen, Citybug se eienaar oor die R15 000 gesê.

Met die skenking het Esterhuizen diegene wat die bekendstelling bygewoon het, asook die groter Mbombela-gemeenskap gevra dat hulle diep in hulle harte en sakke kyk en skenkings aan die tehuis maak.

Die sentrum het 28 beddens, en buiten om na die bejaardes om te sien, het hulle verskeie onkostes soos personeel om
te betaal.
“Die bydrae wat mense maak, help baie met die daaglikse bestuur,” het Fanus Kloppers, voorsitter van die sentrum, gesê. “Ons probeer verseker dat ons bejaardes in hulle laaste dae meer gemaklik is.”

Tot R86 000 is by die geleentheid ingesamel. Laeveld Media het self R1 000 aan die sentrum belowe.
Supa Quick Nelspruit het R1 500 vir 24 maande beloof, terwyl Minibuses Wanted R15 000, Laeveld Verskeringsmakelaars R10 000, Imperial Toyota R5 000, en Glassfit R4 000 aan die tehuis belowe het.

Om geld aan die Mpumalanga se verswaktesorgsentrum te skenk, stuur dit gerus aan Mpumalanga Frail Care, Absa Nelspruit-tjekrekeningnommer 4056422452.
