Refentse vier goud by Innibos
Die jongman se passie vir Afrikaans was duidelik sigbaar.

MBOMBELA – Refentse Morake, die 20-jarige sangsensasie, het Saterdag ‘n buitengewone rede gehad om by Innibos fees te vier. Nie net het hy die gehoor voor die Standard Bank-hoofverhoog tydens die Jacaranda FM-afsluitingskonsert gaande gehad nie, maar hy het die dag ook verneem dat sy album, Deur my venster goue status bereik het.

Dit beteken dat 15 000 eenhede van die album in slegs twee maande verkoop is. Hy het deur die loop van Saterdag ‘n goue sertifikaat tot die effek ontvang. Jacaranda FM het die oorhandiging meegemaak en berig dat Refentse skoon oorstelp was.
“Ek kan dit nie glo nie, jissie julle,” het hy glo met ‘n breë glimlag gesê.
Dit is nie die eerste keer dat Refentse se albumverkope so goed vaar nie. Sy vorige album, My hart bly in ‘n taal, spog al met dubbelplatimunstatus. Dit beteken dat meer as 60 000 eksemplare daarvan verkoop is. Die gewilde sanger het tydens die Jacaranda FM-konsert gewys waarom hy die pryse so inryg – hy het al die Ghoema Afrikaanse Musiektoekennings se album van die jaar, asook die digitale album van die jaar gewen. Hy was ook as die manlike kunstenaar van 2016 aangewys.
Wat veral Saterdagaand beïndruk het, was sy weergawe van David Kramer se treffer, “Meisie sonder sokkies.”
Refentse sou herhaaldelik terugkeer verhoog toe, onder andere vir duette met Corlea Botha en Ricus Nel en as deel van ‘n trio wat “Hardekoolvure” gesing het. Dit het feesgangers gaande gehad.
Die jongman se passie vir Afrikaans was duidelik sigbaar. Gekombineer met sy passie vir musiek en energieke optrede, het dit gewys waarom hy op so ‘n jong ouderdom reeds soveel suksesse op sy kerfstok het.

