Sterre bring Innibos-gees na aftreeoord
'n Spesiale vertoning van die rolprent Vir altyd by die Rubicon-aftreeoord het verlede Vrydag die harte van verskeie inwoners verbly. Bowenal het die sterre van die rolprent, Donnalee Roberts en Ivan Botha saam kom kyk.

Vele bejaardes het die middag in die eetkamer, wat vir die geleentheid spesiaal in ‘n rolprentteater in die kleine omskep is, byeengekom. Vir altyd is met ‘n projektor vertoon en stoele moes van oral in die gebou ingedra word om al die rolprentgangers te akkomodeer.

Dit was duidelik dat hulle hulself terdeë geniet het en bly was dat die rolprentmakers die Innibos-gees na hulle voorstoep gebring het.

Die algemene bestuurder, Driekie Heiberg het vir Muskiet gesê hulle het bloot vir Sandra Jacobs, die fees se bemarkingsbestuurder, ‘n epos gstuur om te vra of hulle kon reël dat een van die Innibos-sterre Rubicon kon kom besoek. “Donnalee en Ivan het dadelik gesê hulle sal graag kom kuier. Ons leuse hier is, ‘die gees van leef vervaag nooit’, en ons wou die inwoners opgewonde maak oor Innibos. Hulle het vooraf regtig daarna uitgesien.”

Die twee akteurs vertolk nie net die hoofrolle in die rolprent nie, maar het dit ook geskryf. Hulle speel Nina en Hugo wat sedert hulle kinderdae al vriende is. Hulle kies later verskillende lewenspaaie, maar jare later vind hulle mekaar weer, nadat Nina hartgebroke by die altaar verlaat is. Hulle besluit om saam op haar klaarbetaalde wittebrood Mauritius toe te gaan. Daarna volg romanse en avontuur asook ‘n ondersoek van die seisoene van liefde en vriendskap.

Die dinamiese duo het na die vertoning hulle passie vir hulle werk met die gehoor gedeel. Die inwoners het baie vrae gevra, wat die sterre hartlik beantwoord het. Hulle het gepraat oor hulle skryfwerk, hulle vertolkings, en natuurlik Innibos. Afrikaners se geliefkoosde silwerdoekpaartjie was juis by die fees te sien in ‘n ander romanse, Beurtkrag.

“Ons is absoluut dol oor die Laeveld, dit is pragtig hier en die weer is wonderlik,” het Donnalee laat hoor. Hulle het ook ‘n kopie van hul ander rolprent, Pad na jou hart aan die aftreeoord geskenk om tydens hul volgende rolprent-aand te kyk.

Voor hulle vertrek het hulle ook tyd gemaak om vir foto’s te poseer. Dit was ‘n lieflike en inspirerende middag.
