Bestuurskooleienaars wys: só maak ‘n mens vrede
"Versoening is die ideaal." - Joseph Mabuza.
MBOMBELA – Twee bestuurskooleienaars wat Sondagmiddag in ‘n dramatiese onderonsie by die toetsgronde betrokke was, het die strydbyl begrawe.
Johan Nel en Stanzo Chikobele sou Dinsdagoggend in die Nelspruit Landdroshof op wedersydse klagtes van aanranding verskyn het. Beide het egter verkies om die vervolgingsproses te laat vaar en die sake is gemedieer.
Laevelder het Dinsdag berig dat Nel en Chikobele omstreeks drieuur daardie middag stry gekry het. Die bron van hulle geskil was die wit pale waarmee leerlingbestuurders hul parkeervaardighede opskerp.

Chikobele, voorsitter van die Mpumalanga Bestuurskoolvereniging en Nel, ‘n voormalige verkeershoof, het verskil oor wie die pale moes onderhou en wie dit kon gebruik.
Chikobele het die pype, waarmee Nel sy kliënte wou leer, gevat.
“Hy (Nel) het dit teruggegryp en is in die gestoei getref,” het Chikobele gesê. Nel het verskil en beweer dat Chikobele hom met ‘n pyp geslaan het. “In reaksie hierop, het ek Chikobele geslaan,” het hy gesê.
Elkeen het ‘n saak van aanranding teen die ander oopgemaak, maar hulle het voordat hofverrigtinge kon begin, vrede gemaak.
“Beide klagtes is teruggetrek en nou kyk ons vorentoe,” het Chikobele aan Laevelder gesê.
“Ons het mekaar daar ontmoet, vrede gemaak en blad geskud,” het Nel beaam.
Joseph Mabuza, woordvoerder vir die Departement van Veiligheid en Sekuriteit, was verheug hieroor. “Versoening is die ideaal. Meningsverskille moet eerder so eindig as met geweld,” het hy gesê.

