Moet jy steeds jou vuurwapenlisensie hernu?
Volgens Camphor het talle eienaars aanvaar dat hulle nie hoef aansoek te doen vir herlisensiëring nie.

MBOMBELA – Vuurwapeneienaars blyk onseker te wees oor die pad vorentoe nadat twee artikels van die Wet op Beheer van Vuurwapens ongrondwetlik bevind is. Aldus Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging.
Hy maan eienaars om steeds by die voorskrifte van Artikels 24 en 28 te hou.
Eersgenoemde het tydsbeperkings op die hernuwing van vuurwapenlisensies geplaas. Wat sou gebeur as dit nie nagekom is nie, moes in Artikel 28 uiteengesit gewees het. Regter Ronel Tolmay het in die Gauteng Hoë Hof, Pretoria bevind dat Artikel 28 in daardie opsig tekort skiet.
Tolmay het verder beslis dat die parlement 18 maande het om die artikels te wysig, sodat dit met grondwetlike vereistes sal ooreenkom.
Alle vervalde lisensies sal geldig beskou word totdat die Grondwethof finaal oor die grondwetlikheid van die artikels beslis het.
Die polisie het gereageer met ‘n onderneming: geeneen wie se vuur-wapenlisensie verval het, sal vervolg word nie en geen wapens wat ingehandig is omdat lisensies verval het, sal vernietig word nie.
Sedertdien het die polisie te kenne gegee dat dit in die Grondwethof daarteen wil appelleer.
Hoe en wanneer die appèl aangehoor sal word, is nog nie bevestig nie. Hoofregter Mogoeng Mogoeng moet in terme van die Grondwethof se reëls, hieroor besluit.
Volgens Camphor het talle eienaars aanvaar dat hulle nie hoef aansoek te doen vir herlisensiëring nie.
Ander wou hulle ingehandigde vuur-wapens oplaas by die polisie verhaal. Hy het hom hierteen uitgespreek. Hy het lede in ‘n e-pos aangeraai om steeds aan die wet te voldoen totdat daar uitsluitsel gegee word. “Onthou,” het hy gemaan, “totdat die laaste uitspraak gelewer is, is hierdie saak nie afgehandel nie. Indien jy ‘n lisensie het wat gaan verval, doen betyds aansoek om dit te hernu,” het hy gesê.
Hy het aanbeveel dat lede hulle vuur-wapens waarvan die lisensie verval het, veilig in ‘n kluis moet hou en liefs nie
moet gebruik nie.
Volgens Camphor is dit juis nóú nood-saaklik vir lede om verantwoordelik op te tree “binne die perke van die wet en die regsproses”.


