Moeilik om dié blondine nie raak te sien nie
Dié plaaslike talentvolle jong blondine met 'n sprankelende persoonlikeid, is besig om vir haarself naam te maak in die musiekbedryf.

Geraldine Scholtz, ‘n plaaslike talentvolle jong blondine met ‘n sprankelende persoonlikeid, is besig om vir haarself naam te maak in die musiekbedryf.
Haar eerste enkelsnit, “Sommer”, is pas uitgereik en is reeds besig om die radiogolwe oor te neem en musiekharte te verower.
Die is ‘n popliedjie uit die pen van Johan Oberholzer en vervaardig deur Murray Lubbe (The Hit Factory). Dit gaan oor ‘n meisie wat verlief is op iemand wat haar nie raaksien nie.
Die treffer is die perfekte pasmaat vir die nuweling se sterk, helder stem en is beslis iets waarby gehore van alle ouderdomme sal aanklank vind. Met treffers soos “Af en af”, “Laaste asem”, “Vat my hoër”, “My alles” en ‘n totaal van meer as ‘n
100 nommer een-titels op nasionale en internasionale radiostasies, het Oberholzer hom as een van ons land se mees produktiewe en suksesvolle liedjieskrywers gevestig.
“‘Sommer’ is vir my ‘n besonder unieke liedjie vir ‘n besonder unieke talent. Geraldine is beslis ‘n vars briesie in die bedryf, veral met haar vernuf op instrumente en sjarme op die verhoog,” sê hy.
Scholtz het vir Oberholzer verduidelik waaroor sy wil hê die liedjie moet gaan.”Daar is soveel mense wat wens dat iemand spesiaal hulle sal raaksien. Johan het my emosies in spesiale woorde neergepen. Ek voel dat ‘n mens meer in die oomblik leef as jy sing oor iets wat jy voel en ervaar.
“Die liedjie is baie spesiaal vir my, nie net oor wat dit beteken nie, maar ook omdat ek na jare se harde werk kan sê dat dit my eie een is,” borrel Scholtz, vir wie hierdie vrystelling een van die hoogtepunte van haar loopbaan is.
“My musiek is baie eerlik en ek deel my hart met luisteraars. Ek sing altyd liedjies waarmee ek ‘n konneksie het of wat my waardes uitbeeld. My doel is om iets vars na die mark te bring en waarna alle ouderdomsgroepe kan luister en geniet.”
Sy kuier gereeld in Gauteng vir optredes.
Sy was van kleins af lief vir musiek en het altyd met die haarborsel as mikrofoon, deur die huis geloop en sing. Sy het in die laerskool begin koor sing en dit is net hier waar haar passie vir musiekmaak behoorlik vlam gevat het.
Klavier- sowel as kitaarlesse en stem-opleiding het gevolg en sy het aan Eisteddfods begin deelneem. Hoewel sy vir ‘n hele ruk operamusiek gesing het, het sy op hoërskool besluit om eerder op popmusiek te fokus.
Haar loopbaan het behoorlik momentum gekry, nadat sy vir Ronel Brink – Bobby van Jaarsveld se ma en bestuurder – ontmoet en ‘n opname vir haar gespeel het. Brink het onmiddellik bevestig dat Scholtz talent het en haar die geleentheid gegee om van Van Jaarsveld se vertonings te open. Sedertdien het sy al by groot feeste, soos Innibos, opgetree en is ook binnekort by Aardklop te sien.
As sy enige ander loopbaan moes kies, sou sy ‘n prokureur wou word, omdat sy daarvan hou om te redeneer en altyd haar feite agtermekaar het, maar verklap dat sy nie op hierdie stadium graag iets anders sou wou doen as sing nie.
Haar ouers ondersteun haar in alles wat sy doen en is altyd daar om haar by te staan. Sy sal graag eendag ‘n liedjie saam met Van Jaarsveld wil opneem en het baie groot planne vir die toekoms.
“My droom is om my eie album uit te bring. Ek wil ‘n wêreldbekende sangeres wees en my lewenslesse met gehore deel.
“Ek droom al twee jaar daarvan om my eie musiek te deel en dit maak my gelukkig dat een van my vele drome bewaarheid word. Ek sing al vir 12 jaar en wil niks anders doen nie,” verduidelik sy.
