Wingrave-familie het weer hoop
Woorde soos "hallo" en "ek is lief vir jou" het die Wingrave-familie weer opnuut hoop gegee.

MBOMBELA – Gavin is twee weke na die plaasaanval in die Heidelvallei, waar hy met ‘n yster byegdam is, uit Rob Ferreira se intensiewesorgeenheid ontslaan.

“Hy is tans by sy volle bewussyn en toon merkwaardige verbetering,” het sy vrou Nadine Maandagoggend aan Laevelder vertel. “Die lang herstelproses begin egter nou en intensiewe rehabilitasie is nou onvermydelik,” sê sy.
Gavin het tans ‘n buis in sy lugweg om enige beperking in die lugweg oop te maak en asemhaling moontlik te maak. Die prosedure staan as trageotomie bekend.
“Die buis belemmer ook tans Gavin se spraak, so die presiese omvang van die skade is tans baie moeilik om te bepaal,” vertel Nadine. Sy voeg by dat hy uitstekende veggees toon en dat sy daagliks verbetering kan sien.
Wingrave het verskeie skedelfrakture opgedoen tydens die aanval wat omstreeks 20:00 – toe hy by die huis gekom het – plaasgevind het. Gavin is skaars ‘n maand nadat hy ‘n man na bewering uit selfverdediging doodgesteek het, aangeval.
“Ek kan nie veel van die aanval onthou nie, maar ek weet dat Gavin oorval is toe hy my probeer beskerm het,” het Nadine vroeër vertel.“Met Gavin wat boonop ‘n week in aanhouding moes deurbring, voel dit of niks wil regloop nie. Maar, elke greintjie positiwiteit, gee my weer opnuut hoop om elke dag aan te pak,” het sy gesê.




