CJ van Schoor (13) het aanlyn opslae gemaak toe ‘n foto van hom wat ‘n Mosambiekse spoegkobra behendig hanteer, op Facebook gepubliseer is. Hierdie jongman se liefde vir slange kom al ‘n lang pad. Sy ma, Anneke van Schoor, is ‘n geregistreerde slangvanger.
“My seun se intense belangstelling het my daartoe geïnspireer,” het sy gister vir Nelspruit Post gesê. Vir sy agtste verjaardag wou CJ net een ding hê – Johan Marais se A Complete Guide to the Snakes of Southern Africa. Sy ma was verbaas. “Seuns van daardie ouderdom verkies gewoonlik speelgoed, maar ons het die boek met liefde vir hom gekoop,” het sy gesê.
Hy was 10 jaar oud toe hulle Mbombela toe verhuis het.
“Skielik het sy belangstelling prakties geword – hier was hy in slangwêreld en ek was bevrees dat ek hom eendag tuis sou aantref met ‘n gevaarlike slang in die hand,” het sy onthou.
Anneke het besluit dat kundigheid die beste manier sou wees om te sorg dat haar seun se passie ‘n veilige een bly. Beide is na Lowveld Venom Suppliers se Chris Hobkirk toe, waar hulle kennis oor slange en vaardighede met die hanteer daarvan opgeskerp is.
CJ se ouderdom beperk die interaksie wat hy met slange mag hê. “Hy sal eers op 16 as slangvanger kan registreer,” het Anneke vertel.
Syself het intussen ‘n groot slang-liefhebber geword en neem CJ saam op uittogte wanneer dit veilig is om handjie by te sit.
Hy het Donderdagaand so ‘n uitstappie meegemaak. “‘n Vrou van Stonehenge het ons gebel. Daar was ‘n Mosambiekse spoegkobra in haar huis en ons moes die slang gaan vang.
“Die reptiel was agter bakstene opgekrul en ek het hom met ‘n slangtang agter die kop vasgevat. My seun het gehelp deur die slang se agterlyf te ontkoek.
“Die reptiel is in ‘n emmer gebêre en CJ het hom die volgende dag onder toesig vrygelaat,” het sy gesê.
Volgens Anneke is dit nou slangseisoen. Sy en haar kollegas by Nelspruit Snake Handlers ontvang tussen drie en vyf oproepe van huisinwoners en besighede per dag.
“Om ons te bel is die regte ding om te doen,” het sy gesê. “Moenie die slang probeer doodmaak nie. Dit is juis dan wanneer jy meer waarskynlik sal seerkry,” het sy gewaarsku.
Anneke het benadruk dat betrokkenes by Nelspruit Snake Handlers deur wetgewing verbied word om betaling vir hul dienste te vra.
Lees ook: Our Feathered Friends
“Ons verrig hierdie gratis diens met plesier aan die gemeenskap en laat die reptiele in veilige areas vry.” Anneke het mites oor die weghou van slange as ouvroustories bestempel.
“Die plant van plante of die plaas van kristalle gaan geen slang weghou nie. Sommiges glo dat Jeyes Fluid en diesel hulle weghou. Hierdie mites is nie waar nie,” het sy gesê.
“Die beste manier om jouself en reptiele veilig te hou, is om ‘n slangvanger se nommer op jou selfoon te stoor en dit in geval van nood te gebruik.”
Skakel Anneke by 079-931-8744 of Chris by 082 372 3350.
