Local newsNews

Hanteer psigiatriese siekte by die werk só

Wenke vir hoe jy te werk kan gaan om psigaitriese toestande te benader in die werkplek.

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie- en-Angsgroep (Sadag), ly ‘n kwart van die Suid-Afrikaanse arbeidsmag aan psigiatriese siektes.

Die meeste van dié werknemers steek egter hulle siektetoestande weg weens vrees vir ‘n stigma en die moontlike gevolge indien hulle dit sou openbaar.

Volgens die Wet op Gelyke Indiensneming het werknemers sekere regte wat hulle beskerm waneer siektetoestande aan werkgewers verklaar word.

Volgens Sadag kan lyers met die die regte behandeling sinvolle en produktiewe werkslewens lei.
Vir baie mense is die beste en mees gewilde pad tot behandeling gereelde sessies by ‘n sielkundige.

Baie mense is egter skrikkerig om alles te verklap en om eerlik met hulle te wees, weens ‘n gevoel dat dié dalk hulle diepste vrese, geheime en probleme sal oorvertel.

Volgens Elmarie Ungerer, ‘n sielkundige van Mbombela, begin konfidensialiteit die oomblik wat ‘n sielkundige ‘n pasiënt aanvaar. Die klem wat hulle op die reg tot privaatheid en vertroulikheid plaas, maak dit juis vir die hulpsoeker moontlik om private inligting met dié kundiges te deel.

Elmarie Ungerer. Foto: verskaf

“Hierdie openlike deel van inligting (al is dit hoe sensitief of kontroversieel) bepaal die effektiwiteit van die uitkoms van behandeling,” het Ungerer gesê.

Die konsep van konfidensialiteit sluit alle aspekte in, insluitend korrespondensie en kommunikasie. Die reg tot privaatheid en vertroulikheid bevestig die persoon se waardigheid en outonomiteit en skep ‘n basis van vertroue.

“Navorsing dui daarop dat pasiënte ‘n baie hoë premie daarop stel,” het Ungerer gesê.

Hierdie konfidensialiteit tussen pasïente en sielkundiges word nooit beëindig nie, selfs nie deur die dood nie. Indien iemand sterf en die sielkundige genoodsaak voel om inligting te verskaf, moet toestemming verkry word deur die administrateur of eksekuteur van die oorledene se boedel asook van ‘n naasbestaande.

Volgens Ungerer is daar egter beperkings en uitsonderings tot hierdie vertroulikheid. Voorbeelde sluit in as die pasiënt ‘n gevaar vir homself of ander inhou of indien die sielkundige deur ‘n hofbevel gesubpoena word om inligting beskikbaar te stel.

Selfs dan kan die sielkundige tydens getuienis dit duidelik stel dat dit onder protes gedoen word.

Wat wel belangrik is om te onthou, is dat werknemers nooit hulle psigiatriese toestand op hul CV’s of ander dokumentasie bekend hoef te maak nie.

Dit kan direk met werkgewers bespreek word, so beide partye kan saam op ‘n plan van aksie ooreenkom. Dit stel die werknemer in staat om sy dienste effektief te verrig, terwyl sy werkgewer sy posisie verstaan.

Vir meer inligting oor ‘n mens se regte en hoe hy hulp kan kry indien hy aan ‘n psigiatriese toestand ly, besoek die Departement van Arbeid se webtuiste.

Vir meer inligting oor hoe en waar behandeling verkry kan word, skakel Sadag se gratis hulplyn by 0800-12-13-14 of besoek die groep se webwerf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button