Skandinawiërs is duidelik die konings van spanning
'n Verhaal is maar 'n reis vir die prys van 'n boek en die eksotiese name, plekke en karakters dra by tot die leser se misdaad-avontuur.

MBOMBELA – Skandinawiese misdaadskrywers is wyd bekend vir hulle skryfvernuf en vermoë om lesers na ver, snerpende koue en gevaarlike plekke te neem.
In 2005 het Stieg Larsson, ‘n Sweed, die verbeeldings van lesers aangegryp met die intellektueel-stimulerende Millennium-trilogie, waarvan Girl with a Dragon Tattoo sekerlik die bekendste is. Sedertdien het die mark vir vertaalde Skandinawiese misdaadfiksie eksponensieel gegroei en daar is vandag ‘n groot aantal boeke deur bekende Dene, Noorweërs, Swede, Yslanders en Finne beskikbaar.
Larsson was egter nie die eerste Skandinawiër wat my verbeelding aangegryp het nie. Ek onthou hoe ek as student in 1992 met Peter Høeg se eksotiese karakter, Smilla, kennis gemaak het. Miss Smilla’s Feeling for Snow het ‘n blywende indruk op my gemaak, maar nie omdat ek die storielyn in detail onthou nie.
Om die waarheid te sê, beskou ek die boek retrospektief maar as ‘n gemiddelde misdaadverhaal wat nie met groot sukses aangebied is nie. Høeg is egter ‘n woordmeester en die snerpende, wit koue, die spannende jaagtogte oor ysige sneeulandskappe en die sardoniese, siniese hoof-karakter wat eintlik maar net na betekenis hunker, sal my bybly.
Die Noorweër Jo Nesbo (“Jo” uitgespreek as “Yoo”) bly maar een van my gunsteling-misdaad-skrywers. Harry Hole (uitgespreek “Hoola”), die hoofkarakter in 12 van Nesbo se verhale, is ‘n tipiese alleenloper met min sosiale vaardighede, maar ‘n intelligente vermoë om tussen goed en boos te onderskei. Hierdie vermoë en die hardhandige, robuuste manier waarop hy misdadigers benader, kompenseer natuurlik vir sy tekortkominge.
Hole loop immers met een voet op die reguitpad en die ander op die weg na selfvernietiging, so te sê in die graf. Hy stoei deurnemend met sy roeping om ernstige misdade te bekamp en die diep littekens wat dit op sy psige inkerf.
Ook met alkoholisme, verhoudings en ‘n soeke na erkenning.
Nesbo se nuutste, The Thirst, het vroeër vanjaar op die mark verskyn en aanhangers van misdaadfiksie sal nie teleurgesteld wees nie: Dit is Harry Hole op sy beste.
Ek het nou maar na drie skrywers uit die koue lande verwys. Daar is ander opwindende ouer en nuwe outeurs wat oor en oor die moeite werd is om te ontgin: Håkan Nesser, Henning Mankell, Johan Theorin, Arnaldur Indridason, Anne Holt, Maj Sjöwall en Per Wahlöö, Yrsa Sigurdardóttir, Karin Fossum en Matti Joensuu, om maar ‘n paar te noem.
Die interessante name sorg vir nog interessanter leesstof!
Volgende maand publiseer ons ‘n rubriek oor A Column of Fire deur Ken Follet – die laste uit sy Kingsbridge-trilogie. As jy dit gelees het sal ons graag jou mening oor die boek wil hoor.

