#SwartMaandag: Onderbergers vergader om plaasmoorde teen te staan
Gemeenskapslede in die Onderberg het Maandag saam met duisende Suid-Afrikaners swart aangetrek om solidariteit met die slagoffers van plaasmoorde te toon en 'n groter bewustheid van dié misdaad onder gemeenskappe te bevorder.
MALALANE – Onderbergers het op kort kennisgewing ná werk by die Sasol-vulstasie in Malalane en op Komatipoort se sportterrein bymekaargekom om die Swart Maandag-veldtog te ondersteun.
Onderberg Besproeiing was een van talle sakeondernemings wat bewustheid oor die omvang van plaasmoorde wou opskerp. Sonder boere, het hulle gesê, sal menige Suid-Afrikaner werkloos wees en nie kos hê om te eet nie. Hulle het gehoop om ook ander maatskappye aan te spoor om vir boere op te kom en ‘n einde aan die aanvalle te help maak.

Ds. Kiewiet van Deventer het die verrigtinge in Malalane geopen en gesê die veldtog moenie gepolitiseer word of slegs een ras of volksgroep uitsonder nie.
LEES: Africa Check Analysis: Why calculating a farm murder rate in SA is near impossible
“Vandag se veldtog gaan oor boere wat deur ontsaglike moeilike omstandighede gaan. Plaasmoorde raak al die mense in ‘n gemeenskap op een of ander wyse.”
Daar is geleentheid vir stil gebed gegee, waarna Van Deventer die groep aangemoedig het om na aanleiding van Psalm 21, deur die Woord van die Here te leef en hulle krag daaruit te put.

Hy het daarna gebid vir Goddelike ingryping, boere, veiligheid, dat mense met wysheid sal optree en vir seën en genade vir die pad vorentoe.
‘n Paar gemeenskapslede het ook ‘n kans agter die mikrofoon gehad. Een het sy ervaring van ‘n aanval en die liefde en ondersteuning wat die gemeenskap gebied het, gedeel. Hy het ook gepleit dat die groep nie in haat sal optree nie, maar liefde aan hulle medemens sal bewys.
LEES: Apps aim to help improve local community safety
Die groep het hande gevat om te simboliseer dat almal saamstaan.
‘n Ander het genoem dat ander bevolkingsgroepe ook tydens sulke veldtogte betrek moet word aangesien nie net wit plaasbewoners vermoor word nie.
Ds. Uli Trümpelman het sy ampsgenoot se boodskap beaam en genoem dat die swart kleredrag ook simboliseer dat die land deur ‘n donker tyd gaan en dat Jesus en die kruis die enigste antwoord daarvoor is.
Die groep het daarna na die verkeerslig by Pick n Pay beweeg en op die N4 na die verkeerslig by die Caltex-vulstasie en terug gestap.
In Komatipoort het ds. Arrie Preller die byeenkoms met Romeine 12 geopen. Hy het gesê dat ‘n mens in tye soos hierdie kan maak asof dinge nie so erg is nie, of kan oorreageer en groepe mense etiketteer. Hy het ook beaam dat almal slagoffers van die brutale geweld en moorde in ons land is en die groep gemaan om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar goedgesind te wees teenoor alle mense.
Almal is hierna gevra om in klein groepies te verdeel en saam te bid voordat hulle na die Strydomblok-afdraai op die N4 gery het. Securicon Lowveld het die konvooi begelei en mense wat die stoet teëgekom het, het omgedraai en in die tou geval om hulle steun aan die saak te bewys.
Die organiseerders wil die maatskappy bedank vir hul bereidwilligheid om op kort kennisgewing in te spring en te help.
Verkeer is nie vertraag nie en voertuie is in rye langs die pad geparkeer sodat die groep vir ‘n rukkie kon vergader.

Volgens Hannes Eloff, ‘n lid van die gemeenskap, was die mense se gesindheid merkwaardig.
Soos Onderbergers in Malalane was hulle dit eens dat daar nou aandag gegee moet word aan die sinnelose geweld en moorde in die land.
