‘n Week vol opwindende krieket gespeel
Drie seuns het honderdtalle in die week se wedstryde aangeteken.

Twaalf laerskole het vanjaar aan die Trevor Smith-krieketweek, aangebied deur Laerskool Witrivier, deelgeneem.
Daar is altesame 84 wedstryde op agt velde deur 33 spanne gespeel.
Laerskole wat deelnemers gestuur het, is Witrivier, Barberton, Nelspruit Primary, Malalane, Klipfontein, Kanonkop, Clivia, Uplands, Uthukela Sport Academy, Bergland en Laeveld.
Van Vrydag 22 Junie tot Dinsdag 26 Junie het o/9- en o/11-spanne kragte gemeet en van 26 tot 30 Junie het o/12- en o/13-spanne mekaar gepak.
’n Unieke kenmerk van dié toernooi was dat skole vir eerste keer die Web Cricket App gebruik het om telling te hou.
Ouers wat die wedstryde nie kon bywoon nie, kon gevolglik ook tred hou met die tellings aangesien dit intyds weergegee is.
Al die spanne het ook aan John Laffnie de Jager se Handshake Challenge deelgeneem deur voor en na elke wedstryd hand te skud.
Video’s is hiervan geneem en John Lafnie het ook ’n persoonlike boodskap vir die week aan die deelnemers gestuur.
Drie seuns het honderdtalle in die week se wedstryde aangeteken.
Laerskool Kanonkop se Ewald Schreuder het twee honderdtalle in sy vier wedstryde gemoker – 119 en 107. Hy het ook vyf paaltjies in een van die wedstryde geneem.
Rico Honiball van Uthukela Sport Academy van Ladysmith het 111 lopies teen Laerskool Kanonkop aangeteken en Schalk Niewenhuiz 112 (nie uit nie).
Die organiseerders het na die tyd die borge wat die toernooi moontlik gemaak het, bedank vir hulle volgehoue ondersteuning.
Die sport self was uiteindelik die wenner, met Laerskool Clivia and Uthukela Sport Academy wat selfs hulle spanne vir die laaste wedstryd van die toernooi gekombineerd teen mekaar laat speel het.
