Geliefde Witrivier inwoner sterf in gru-ongeluk
Die vragmotor het volgens die egpaar se dogter oor hulle bakkie gery en haar ma is op slag dood.

WITRIVIER – ‘n Bekende, afgetrede posmeester van die dorp het verlede week sy vrou in ‘n gruongeluk naby Warmbad aan die dood afgestaan.
REAKING: Four people killed in accident on Plaston Road
Ben Engelbrecht en sy vrou Rina (71) was Maandag op pad van Pretoria af Witrivier toe, toe hulle met ‘n vragmotor gebots het. Hulle was saam met hulle dogter, Daniela by Klein Kariba Vakansieoord vir die naweek.
Die vragmotor het volgens die egpaar se dogter oor hulle bakkie gery en haar ma is op slag dood. Sy vertel dat haar ma “onherkenbaar” was toe sy haar gaan uitken het.
Ben, beter bekend as Posduif, het twee nekwerwels gebreek, frakture aan sy ribbes en erge uitwendige kopbeserings opgedoen, en sterk tans in Montana se hoësorgeenheid aan. Die presiese oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
Ongeveer 20 jaar gelede is Ben se seun Johan, ‘n oudleerder van Hoërskool Rob Ferreira onder dieselfde omstandighede oorlede. Daniela, nou die enigste kind, vertel dat hy ook in ‘n botsing met ‘n vragmotor oorlede is.
Ben is vir die afgelope 17 jaar aktief by die Witrivier-gemeenskap betrokke. Hulle het voorheen in Mbombela, Barberton en Skukuza gewoon.
Rina gaan veras word en die roudiens word Dinsdag om 12:00 by NG Kerk Witrivier gehou.
Sy laat vier kleinkinders, Japie Bester, Dané Jansen van Vuuren, Izandri en Joriaan Engelbrecht en twee agterkleinkinders na.
