VIDEO: Konvooi ter ere van oorlede motorfietsryer
Op pad van Orighstad na Pilgrim's Rest het Leodolff vooruit gery en waarskynlik in die pas beheer oor sy motorfiets verloor en by 'n steil krans afgestort.

PILGRIM’S REST – Die Rowerspas naby die geskiedkundige dorpie het Saterdagmiddag die lewe van ‘n jongman van Benoni geëis.
Quintin Leodolff, ‘n komiteelid van die BMW Motorrad Club Central en ‘n vrywillige brandbestryder by Benoni GPF, was deel van ‘n groep van drie wat die afgelope naweek ‘n toer na Graskop onderneem het.
Op pad van Orighstad na Pilgrim’s Rest het Leodolff vooruit gery en waarskynlik in die pas beheer oor sy motorfiets verloor en by ‘n steil krans afgestort.
Volgens Danie Theron van Bossies Community Justice (BCJ) wat saam met Off Road Rescue Unit (ORRU) na die toneel toe ontbied is, het die ryer in ‘n skerp draai die pad byster geraak en oor ‘n 40 meter hoë afgrond na sy dood geval.
Theron het verder gesê dat Leodolff ernstige inwendige beserings opgedoen het en op slag dood is.
Hoewel die presiese oorsaak van die ongeluk onbekend is, vermoed Theron dat gruis op die padoppervlak, dalk kon veroorsaak het dat die motorfiets onder Leodolff uitgegly het.
Toe die ander twee ryers in Pilgrim’s Rest aankom, het hulle agtergekom dat hulle vriend nie meer saam met hulle is nie.
Hulle het dieselfde pad teruggery en op die toneel afgekom.
BCJ en die ORRU kon omstreeks 15:00 met behulp van ‘n plaaslike insleepdiens, die man se liggaam na die padoppervlak bring waar ER24, EMS en die polisie se forensiese patologie-eenheid gewag het.
Lees ook: Six million steps for children with cancer
BMW Motorrad Club Central het hulle innige simpatie teenoor Leodolff se familie en vriende uitgespreek.
https://www.facebook.com/tamara.mackenzie/videos/10155294841221685/
