Local newsNews

Kleuter geniet weer vreugde van kindwees

Sy kan nie uitgepraat raak oor die ondersteuning wat hulle uit alle oorde ontvang het nie.

WITRIVIER – “Vang my!” skree Antoiné Dingle uitgelate en boetie Matt moet bontstaan om haar lyfie stewig beet te kry toe die driejarige kleuter sonder huiwering in die swembad spring.

Antoiné is pas tuis na hopelik ‘n laaste kuier in die intensiewesorgeenheid van ‘n hospitaal en kan nou na hartelus in die water baljaar – iets wat sy sedert Maart nie kon doen nie.

Die woelige meisiekind het die afgelope maande diep in mense oor die wêreld heen se harte gekruip nadat haar ma, Melanie ‘n Facebook-bladsy gestig het waarop sy haar hart en hulle lewens oopgestel het vir belangstellendes. “Omdat almal op die dorp my ken en altyd wou weet hoe dit gaan, was dit die maklikste uitweg.”

Laevelder het dikwels berig oor die kleuter se stryd met sentrale apneehipopneesindroom, twee lewensgevaarlike toestande. Sy hou op om asem te haal (apnee), haal soms weer te stadig asem (hipopnee), en moes sedert April met ‘n trachi in haar keel snags hulp met asemhaling kry.

Omdat water in haar keel kon afloop, moes sy natuurlik uit die water bly. Verder moes sy daagliks baie pyn verduur wanneer mamma, gelukkig ‘n paramedikus met die nodige ervaring en kennis, die toestel skoonmaak.

Met hulp van die Laeveldse gemeenskap kon Antoiné egter op 24 September ‘n diafragmapasaangeër kry en is die trachi verwyder. Met een oog op haar kleuter in die swembad, vertel Melanie van die stryd van die afgelope maande en gee sy ook ‘n kykie wat nou op Antoiné en die gesin wag.

“Sedert Maart het ek slegs ‘n paar weke in my eie huis kon deurbring,” vertel sy. “Die hele April en Mei was ek in die hoësorgeenheid saam met haar.”

Die gesin het uiteraard finansieel en emosioneel swaar getrek. In 2015, die jaar waarin Antoiné se toestand gediagnoseer is, het Melanie ook haar werk en gevolglik haar huis en ander besittings verloor. Genadiglik het sy later weer haar werk teruggekry maar steeds kon Melanie nie haar plek oral volstaan nie.

Sy kan nie uitgepraat raak oor die ondersteuning wat hulle uit alle oorde ontvang het nie, maar vertel dat Ettienne en Angelique Cooper van Pick n Pay Witrivier se ondersteuning haar die meeste geraak het.

“Vir drie maande lank het hulle alles wat ons by ons kosstalletjies nodig gehad het, geborg. Angelique was met elke fondsinsameling dáár om te help en verras my telkens nog met ‘n onverwagte bydrae.”

Dieselfde kan sy egter nie van alle ondersteuners sê nie. Die gesin moes uiteindelik R100 000 by iemand leen nadat dié bedrag op radio aan hulle belowe is, maar steeds nie oorbetaal is nie.

Hoewel die toekoms heelwat meer rooskleurig lyk, sal dit ook nie sonder uitdagings wees nie.

Antoiné moet steeds gereeld vir verskeie toetse gaan. Sy moet fisio- en spraakterapie kry en die hele gesin kry saam met haar berading om die trauma van die omstandighede te verwerk.

Sy is nou amper gereed om weer kleuterskool toe te gaan, maar haar ouers het besluit om tot volgende jaar daarmee te wag. Intussen beplan die gesin eers ‘n broodnodige vakansie saam om tot verhaal te kom.

En terwyl sy die lewegewende pasaangeër nou in ‘n klein “handsakkie” kan saamdra as sy snags haar eie bed vir Mamma s’n wil verruil, staan die hartmasjien en ventilator vir eers, hopelik vir altyd, ongebruik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button