Local newsNews

Kinderland se konsert maak groot verskil vir Mienke

Die Kleuterzone-kompetisie word landswyd gehou om die beste kleuterkonsert in die land te bekroon en Kinderland was die enigste finalis wat van die Laeveld afkomstig is.

WITRIVIER – Kinderland kleuterskool en nasorgsentrum se optrede in die finaal van die KykNET Kleuterzone-kompetisie wat Sondag in Centurion gehou is, het meer vrugte afgewerp as wat hulle ooit kon dink.

Nie net het hulle twee trofeë verower met die liedjie “Fight Song” nie, maar hulle het dit ook opgedra aan Mienke Mulder.

Laevelder het voorheen berig hoe Mienke sewe maande oud was toe sy verlede jaar in Mbombela aan ‘n bottel gestik en intensiewe breinskade opgedoen het wat haar liggaamsfunksies beperk. Die gesin het intussen na die Wes-Rand verhuis om Mienke se terapie te vergemaklik.

Mienke en haar ma, Verna, het Sondag ook ‘n verskyning op die verhoog gemaak om hulle storie te vertel. Volgens Adel Nel, eienaar van Kinderland, het Anthonie Bougas, vervaardiger van die program, ‘n bak vir donasies in die gehoor omgestuur nadat hy Mienke se verhaal gehoor het. Hiermee het hulle R5 200 ingesamel.

LEES OOK: WATCH: Mienke Mulder gesels met haar pa

“Ons het ook R3 750 vir haar ingesamel met die skool se konsert vroeër vanjaar,” het Nel gesê. Verna het gesê sy is baie verheug oor die skenking en dat sy baie emosioneel geraak het toe sy die liedjie hoor en sien hoe die kleuters dit uitvoer.

Kinderland se tema vir hul opvoering was “Rock ‘n Roll vir Jesus”. Leerlinge van twee- tot negejarige ouderdom het deelgeneem. Hulle het die trofeë vir beste groepwerk en beste selfvertroue ingepalm.

“Die geld gaan net so in Mienke se rekening in vir haar besoek aan Indië waarheen ons hoop om haar in Januarie te neem,”

het Verna gesê.

Hier gaan Mienke gespesialiseerde stamselterapie ontvang wat hulle van haar beenmurg gaan kweek. Hierdie stamstelle skep nuwe paaie na haar brein wat van haar liggaamfunksies soos eet, drink en loop kan verbeter.

LEES OOK: Plaaslike besighede word uitgedaag vir fondsinsameling vir Mienke

Volgens Verna het die dokters in Indië ‘n verskil in Mienke se gedrag gewaarborg.
Vir hierdie terapie het hulle R600 000 nodig waarvan R180 000 reeds ingesamel is.

Vir enige inligting of besonderhede vir skenkings, kan belangstellendes na die Please Pray for Mienke Facebook-blad gaan. Die finale ronde van die konsert word in Januarie op KykNET NOU! (DStv-kanaal 146) uitgesaai.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button