Local newsNews

Plaaslike inwoner se woning van 13 jaar brand af

Niemand is in die vuur beseer nie.

MBOMBELA – Ben Wolmarans het Sondag omstreeks 12:30 heerlik op die stoep van sy huis in Karino langs die dam gesit en koerant lees toe die ondenkbare gebeur. ‘n Naburige visserman het vir hom gesê dat daar rook vanuit sy huis kom, en toe Wolmarans die huis binnegaan het hy in ‘n rookwolk ingestap. Die boonste vloer van sy dubbelverdieping-grasdakhuis was toe reeds onder die vlamme.

Hy het sy tuinslang gegryp en self probeer om die vuur te blus en het ook Hi-Tech-sekuriteitsmaatskappy geskakel wat die brandweer ontbied het. Johan von Weidts, stasiebevelvoerder van die Mbombela Brandweer het gesê dat hulle die skade aan die huis tussen R3,5 en R4 miljoen raam.

Volgens hom was daar twee reddingseenhede, een van KaNyamazane en een van Mbombela, ontplooi sowel as twee brandweerwaens onderskeidelik ook van KaNyamazane en Mbombela. “Ons is twee maal na die vuur uitgeroep. Die eerste oproep was om 12:35 en die brandweer het tot ongeveer 19:30 daar gebly. Toe hulle op die toneel kom was 90 persent van die dak reeds verbrand,” het Von Weidts gesê.

“Ons vermoed dat dit ‘n elektriese kortsluiting was maar ons kan nog nie seker daarvan wees nie,” het Von Weidts gesê. Volgens hom het die smeulende vuur weer ontvlam en die brandweer is weer om 21:50 ontbied. Hierdie keer kon hulle die vuur in ‘n uur en ‘n half geblus kry.

ALSO READ: OPVOLG: Brand op Alkmaar onder bedwang gebring

“Alles is weg. My slaapkamer, kantoor, leefarea, televisiekamer, eetkamer – daar is niks nie. Selfs al my klere het gebrand,” het ‘n baie harsteer Wolmarans aan die koerant vertel. “Die kamers op die grondvlak het wel nie gebrand nie, maar daar is baie skade van die water en die rook.”

Net soos Von Weidts, vermoed hy ook dat dit ‘n elektriese kortsluiting was wat die vuur veroorsaak het. “Ek het 13 jaar lank in die huis gebly. Die grootste hartseer is al die foto’s en erfstukke en memoirs wat verbrand het wat ek nooit weer sal kan vervang nie,” het Wolmarans gesê.

Hy is egter baie dankbaar dat hy en sy drie honde ongedeerd van dié gebeurtenis weggestap het. Tans gaan hy by sy besigheidsvennoot tuis, maar is besig om na ‘n meer permanente oplossing te soek terwyl hy details met die verskeringsmaatskappy uitklaar.

ALSO READ: KYK: Groot skade na BUCO brand

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button