Bussie weer aan die ry danksy die publiek se hulp
Dansky die publiek se oop harte en hande kon SAVF Silwerdae weer hulle bussie in werkende toestand kry.

Laevelder het voorheen berig dat die tehuis finansieel nie die las kon dra vir die herstelwerk aan die bussie nie. Ongeveer ‘n maand na dié berig het hulle genoeg fondse ingesamel vir die nuwe enjin wat hy nodig gehad het.
Die bussie is ‘n noodsaaklikheid aangesien hy gebruik word om die inwoners vir hulle mediese behandeling na Macahdodorp te vervoer en benodigdhede van winkel-sentrums af aan te ry. Elna van Zyl, voorsitter van Silwerdae, het gesê dat hulle baie dankbaar is vir die hulp van die publiek.


“‘n Dankie klink so min in vergelyking met die ware dankbaarheid wat ons teenoor die publiek se volgehoue ondersteuning voel. Mag elkeen van hulle geseënd wees,” het Van Zyl gesê.
Volgens haar is daar egter steeds ‘n tekort aan kruideniersware by die tehuis en enige bydrae word waardeer. Vir meer inligting of om ‘n bydrae tot die tehuis se fondse te maak, kan Van Zyl geskakel word by 082-574-1186.
