Enchanted Warrior naweek help vroue hulleself verdedig
Wake het die dames verdere tegnieke geleer en ingeoefen om hulself te beskerm indien hulle met wapens aangeval sou word.
Vroue van alle ouderdomme kon onlangs by ‘n selfverdedigingswerkswinkel nie net fisies voorberei om hulself te verdedig nie, maar ook emosioneel.
Die Enchanted Warriors-naweek is van 26 tot 28 Oktober by Umbhaba Lodge in Hazyview aangebied.
Hi-Tech Sekuriteit, Lizelle Grobler van Iqiniso Forensic Investigations, en Tony Wake het kragte saamgespan om die werkswinkel moontlik te maak.
Die naweek het afgeskop met ‘n Krav Maga-werkswinkel deur Wake. Almal het mekaar beter leer ken toe hulle met die eerste wurggreepoefening begin het.
Wake het met sy humorsin baie gehelp om die ys te breek sodat die vroue gemakliker met mekaar was. Hulle het onder meer tegnieke geleer om uit ‘n wurggreep te ontsnap, asook uit kabelbinders, duck tape en tou.
Saterdag het Hi-Tech ‘n werkswinkel aangebied oor hoe om bruikbare inligting aan owerhede deur te gee. Hennie Potgieter het ook uitgebrei oor hoe om voorkomend op te tree in ‘n moontlike aanval of inbraak.
“Wees altyd voorbereid vir so ‘n situasie, of jy op die plaas of in die dorp bly. Jy moet ‘n aksieplan hê, en ‘n selfoon wat altyd gelaai is om mee uit te bel, wat niemand behalwe jy en jou man van weet nie.”
Wake het die dames verdere tegnieke geleer en ingeoefen om hulself te beskerm indien hulle met wapens aangeval sou word.
Daarna het Mariette Saaiman haar getuienis gelewer oor haar ervaring van ‘n plaasaanval twee jaar gelede. Sy het die gehoor in trane gehad met haar vertelling en hulle geïnspireer met vertelling van die herstelproses daarna.
Volgens Grobler is dergelike werkswinkels van kardinale belang omdat dit jou help om muscle memory te ontwikkel om jouself te help onder sulke stressvolle omstandighede.





