Karateka is ‘n sprekende voorbeeld van ‘klein maar getrain’
Babsie is tans die enigste persoon op die dorp, trouens in die hele Mpumalanga, wat dié karatestyl beoefen.
Agter ‘n hek in Kiaatstraat in Witrivier staan daar ‘n blinkwit outydse Volla in die oprit.
In dié veteraanmotortjie ry ‘n groot, sterk man en sy baie klein, petite vroutjie soggens werk toe.
Aangename, vredeliewende mense, altwee. Maar moenie vir Babsie Roos op haar netjiese werksklere en sagte glimlag takseer nie. Sy is tans die Suid-Afrikaanse Kimura Shukokai-seniorvrouekampioen en lankal reeds houer van ‘n tweede dan-swartgordel in dié gevegskuns.
Die titel dra sy sedert 1 Junie se nasionale kampioenskappe by Wits Universiteit toe sensei Steffen Schneier die goue medalje vir die uitvoering van haar kata in daardie betrokke afdeling aan haar oorhandig het.
Voordat sy in alle erns begin voorberei vir die wêreldkampioenskappe wat volgende jaar in Kaapstad plaasvind, het Laevelder (effe versigtig) met haar gaan kennis maak.
Babsie het begin karate doen toe sy maar 10 jaar oud was. Hulle het toe in die destydse Pietersburg gewoon en haar tante het haar aan die Kimura Shukokai-styl voorgestel.
Sy vertel dat dié styl se tegnieke subtiel van die Shotokan, JKA en ander style verskil, maar dat sy baie daarvan hou. Deur die jare het sy al verskeie kompetisies gewen, ‘n hele bos medaljes verower en selfs verskeie kere vir die tweejaarlikse wêreldkampioenskappe gekwalifiseer. Sy kon egter nog net verlede jaar bekostig om oorsee te reis om daaraan deel te neem. Dit het toe in Swede plaasgevind.
Babsie is tans die enigste persoon op die dorp, trouens in die hele Mpumalanga, wat dié karatestyl beoefen. “Ek neem dus steeds onder die provinsiale vaandel van Limpopo deel en oefen elke dag op my eie,” verklap sy. Dan word die sitkamermeubels opsy geskuif om plek te maak, of in lekker weer oefen sy buite op die grasperk.
Een keer per maand probeer sy wel ‘n spanoefening in Johannesburg of Polokwane bywoon. “Andersins neem ek maar videos van myself en stuur dit vir my tannie om te beoordeel en raad te gee met afronding.” Dit beteken natuurlik ook dat sy slegs op kata konsentreer en die kumite-afdeling maar laat links lê.
Haar man het onlangs saam met haar begin oefen, maar sê hy is nog maar ‘n beginner. Hy help darem deur haar bewegings fyn dop te hou. Jare saam met haar het hom al goed van die korrekte bewegings bewus gemaak.
Selfdissipline bly natuurlik Babsie se wagwoord. Voor ‘n groot kompetisie oefen sy elke aand minstens ‘n uur lank, andersins minstens een keer per week. Sy gaan oefen egter elke dag in die gimnasium.
Oor twee jaar gaan sy in die veteranegroep begin deelneem en dink ook al daaraan om haar eie klub te begin. “Maar vir eers is voorbereiding vir volgende jaar se wêreldkampioenskappe my hoogste prioriteit,” sê sy beslis.
Babsie vertel dat sy onlangs báie gewig verloor het, iets wat ‘n mens skaars kan glo van so ‘n klein mensie, en dat hulle nou meer bewus is van ‘n gesonde lewensstyl.
Hul nuwe eetpatroon sluit alkohol en preserveermiddels uit, en baie vars groente, vrugte en water in.
“Ek voel sommer heelwat ratser en vinniger sedert ons dié eetstyl aangeleer het,” glo sy.
Babsie is ‘n rekenmeester en werk as assistent vir die finansiële bestuurder van ‘n groep in ‘n bekende private wildtuin in die Laeveld.
Verder is sy en haar man regte “fliekoholics” en gek oor alle genres. Maar dikwels kry die Wanderlust hulle beet, want hulle is ook ywerige stapentoesiaste en lede van die Lowveld Hiking Club.
Dis natuurlik nou wanneer hulle nie aan hul ander passie, die Vollas, werk nie. Daar staan juis nog een in die agterplaas wat hulle onlangs aangeskaf het en wat smeek om mooi gerestoureer te word.



