
KOMATIPOORT – Backstage spog nie net met ‘n nommer een treffer in Suid-Afrika en 700ste plek in Amerika nie, hul bied ook plaaslik konserte aan vir fondsinsamelings ten bate van behoeftiges.
Die groep het verlede naweek op die terrein van die Hervormde Kerk jonk en oud op hulle voete gehad. Hierdie optrede is gehou om geld in te samel vir die voedingskema van Komatipoort Akademie. Hierdie projek is etlike jare gelede begin deur die hoof, Ormond Lombard en sy vrou, Lydia. Die kos vir die kinders word voorberei deur die leerders van die hotel- en spysenieringsklasse. In 2019 kon 37 kinders twee maal per dag gevoed word.
‘n Tent ter waarde van R90 000 is gratis verskaf en vele geskenkpakkies is uitgeloot. Die kunstenaars wat gesing het tydens Backstage se ruskanse, was plaaslike talent Riana Eloff se skoolkoor, Riana en haar seun Hannes, hoofsanger van Backstage, Marian du Plessis, Sanet van Greunen, Chimonè Kok en Nastasja Pretorius.
Gaste het ook deelgeneem aan die Bybelverspreidingprojek Hande en Voete vir Jesus, waar die mikpunt is om 1,7 km hande te bekom, die afstand tussen al die kerke in Komatipoort.
Ormond en gemeenskap bedank Backstage vir hierdie ongelooflike konsert, waartydens daar R66 000 ingesamel is.
