AfriForum stig buurtwag in Malalane
Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het op 1 Julie 'n buurtwag in die dorp op die been gebring nadat gemeenskapslede dit genader het.

Die buurtwag gaan saam met plaaslike veiligheidsinstansies en die polisie werk om misdaad in dié dorp te bekamp.
Lede wat aansluit geniet verskeie voordele, naamlik regsondersteuning vir buurtwagwerksaamhede, opleiding in verskeie modules wat op buurtwagte fokus en toerusting soos glim- en koeëlvaste baadjies, sowel as flitse en patrollieligte.
“Ons is slaggereed om misdaad in die omgewing te bekamp. AfriForum bemagtig ons om met die nodige kennis en rugsteun ‘n verskil te kan maak om die veiligheid van die gemeenskap te help verseker,” sê Alwin Carstens, voorsitter van die Malalane-buurtwag.
AfriForum het vanjaar verskeie grondgrype in die Laeveld met behulp van sy tak- en buurtwagstrukture gekeer, en het ook by onluste ondersteuning gebied.
LEES OOK: Hoërskool Barberton-leerder toets positief vir Covid-19
“Die organisasie se veiligheid-strukture tree volgens die wet op en dra regoor Suid-Afrika op verskeie maniere by om misdaad te bekamp. Die buurtwaglede hanteer gevalle van inbrake, tot ernstiger misdade soos plaasaanvalle,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.
