Laeveldse rugbylegende oorlede
Chris Buitendach was ‘n keurder vir die Laeveldse o/18 Cravenweek-span vir 14 agtereenvolgende seisoene.
Die legendariese rugbyafrigter, Chris Buitendach is gisteroggend oorlede. Hy was 68 en het kanker van die pankreas gehad.
Buitendach was ‘n onderwyser by Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Nelspruit (NHS) en het ook by dié twee skole rugby afgerig.
Volgens NHS se skoolhoof, Johan Hattingh, het Buitendach in 1985 daar begin skoolhou.
“Leerders sal hom onthou vir die regte kleredrag in lewensoriëntering, nie laat kom nie, nie lyf wegsteek nie en goeie dissipline. Hy was ‘n toegewyde en passievolle afrigter in landloop, middelafstande, krieket en rugby.
“Ons innige meegevoel gaan aan Claudia en die seuns. Baie dankie vir die tyd wat julle deel was van NHS – ons waardeer die nalatenskap van Christiaan Daniël Wilhelm Buitendach,” het Hattingh gesê.
Hy was ook ‘n keurder vir die Laeveldse Cravenweek-span van 1978 tot 1991 – ‘n volle 14 jaar – en het die Nelspruit Rugbyklub tussen 1989 en 1991 afgerig. Hulle het al drie jare in die klubfinaal gespeel.
In 1991 het hy die Laeveld-seniorspan afgerig en was voorsitter van die Laeveldse Afrigtersvereniging van 1989 tot 1991.
Nadat Buitendach uit die Laeveld weg is, het hy by Transvaal, Nood-Transvaal, Tuks, Pretoria Technikon, Impala Plats Rugbyklub, die Bulle, Pirates Rugbyklub en die nasionale spanne van Pole en Indië afgerig. Hy was ook ‘n skrumkonsultant vir Springbok-afrigter, Nick Mallet in 1995.
Terwyl hy van 2001 tot 2005 in Witbank gewoon het, was hy die hoof van die Mpumalanga-rugbyunie.
LEES OOK: Phakisa Pumas player to don green and gold
Hy het ‘n hele aantal spanne afgerig – van skole- tot senior spanne, en die afgelope paar jaar het hy afrigtingsimposiums oral in Suid-Afrika aangebied.
Buitendach was een van die land se mees ervare rugbyafrigters.
Phakisa Pumas se direkteur van rugby, Jimmy Stonehouse het hom geken sedert hulle albei skoleafrigters was; Buitendach by NHS en Stonehouse by Hoërskool Ermelo.
“Hy was ‘n besondere man en het uitstaande kennis van die sport gehad. Sy dood is ‘n groot verlies. Ek het hom verlede Vrydag gaan groet. Hy was ‘n Laeveldse legende wat ‘n internasionale legende geword het. Ek gaan baie na hom verlang,” het Stonehouse gesê.
Buitendach het ook in 2001 die Pumas afgerig.
Hy het 18 jaar van sy lewe gewy aan rugby in Mpumalanga en sy rugbyvriende gaan hom vir seker mis.
