Gratis oogoperasie bloot ‘n wonderwerk vir jong vrou in Mbombela
Om weer te kan werk en lees. Dit is die twee dinge waarna Carla du Plessis (20) die meeste uitsien na haar oogoperasie op 2 Oktober.
Carla, wat sedert die ouderdom van sewe met diabetes saamleef, het onlangs ‘n prosedure op haar regteroog ondergaan wat haar sal help om onder meer dié twee dinge weer met gemak te kan doen.
Haar linkeroog het ongelukkig as gevolg van haar diabetes ‘n punt bereik waar sig nooit weer moontlik wees nie.
In wat haar ma, Corné, as niks minder as ‘n wonderwerk beskryf nie, het ‘n span dokters by Busamed Lowveld Private Hospital saamgespan om dié operasie vir haar te moontlik te maak sonder dat die familie ‘n sent daarvoor hoef te betaal.
Vroeër vanjaar het Carla so te sê ‘n normale lewe gelei en was onafhanklik van ander mense. Maar alles het aan die einde van Mei verander.
“Carla was eintlik vreeslik siek vir vier maande. Daar was baie drukking op die linkeroog wat nou blind is en ons het ‘n afspraak met dr. Johan Eksteen gemaak.

“Omdat ons nie ‘n mediesefonds het nie, het hy ons aanvanklik na Rob Ferreira-hospitaal verwys. Hulle kon ongelukkig nie die oog red nie. Toe begin die regteroog ook met dieselfde probleem en sy is op die waglys by Steve Biko-hospitaal in Pretoria geplaas.”
SIEN OOK: IN FOTO’S: Bugzy en Canary besoek Laerskool Bergland
In die laaste week van September het Carla egter ‘n “skietgevoel” in haar regteroog gekry, waarna haar ma haar weer na Eksteen geneem het. Hulle het besef die operasie kon nie veel langer uitgestel word as hulle die oog wou red nie.
Nog ‘n paar dae langer en sy sou haar sig heeltemal verloor.
“Eksteen het gereël dat die operasie verniet gedoen word. Dit was ‘n wonderwerk,” het ‘n emosionele Corné gesê.
Taryn Laas, bemarkingsbestuurder van die hospitaal, het gesê hulle is ontvanklik vir sulke gevalle wanneer dokters dit aan hulle voorlê. “Dit is so belangrik om daardie verskil te kan maak.”
Eksteen het met sy kollegas, dr. Ivan Doncaster (narkotiseur) en dr. Jan Niemandt (retinale spesialis in oftalmologie) gepraat en hulle het ingestem om die operasie gratis te doen.
“Ons maak staat op ons dokters vir dié soort prosedures. As hulle voel iets lê hulle na aan die hart en hulle wil dit as pro bono hanteer, nader hulle ons. Van daar sal ons na onderskeie gevalle kyk en dit oorweeg.”
LEES OOK: Nkomazi community protests over corruption and maladministration
Volgens Eksteen lyk die vooruitsigte vir Carla se regteroog goed. Daar is egter die moontlikheid van opvolgoperasies in die toekoms.
“Ons is opgewonde oor haar regteroog. Hopelik kan sy gou weer onafhanklik funsioneer. Sy gaan waarskynlik in die volgende twee tot drie jaar ‘n katarak-operasie benodig in die regteroog.
“Ons sal ook kyk na borge daarvoor, maar op die oomblik moet dit nou net genees en sy gaan oor ‘n maand ‘n bril kry. Dan moet sy haar suiker mooi beheer en ons sal die diabetes se komplikasies hanteer,” sê Eksteen.
LEES OOK: Breast Cancer Awareness Month – Fight like a girl
‘n Eenvoudige verduideliking van die 45-minuut operasie is dat daar abnormale bloedvate agter in die oog op die retina gegroei het. Daardie bloedvate verswak en lek dan. Bloed en vog bou met tyd op in die oog.
Die operasie het dié vog en bloed verwyder en die bloedvate op so ‘n manier hanteer met behulp van laser dat hulle nie verder in die oog sal bloei nie.
Eksteen sê die kanse dat dit weer bloei is skraal, hoewel ‘n mens nooit ‘n waarborg kan gee nie. Voor die operasie het sy omtrent 10 % sig in haar regteroog gehad.
“Dis moeilik om te sê, maar ons sal graag wil hê dat sy 80 % of meer visie sal hê. Op die skandering lyk die retina goed en dit is altyd verblydend.”
Carla, haar ma en pa wil graag aan al die dokters betrokke en vir die hospitaal baie dankie sê vir die hulp wat hulle ontvang het.
Behalwe vir lees, teken Carla ook graag en sy kan nie wag om weer te begin werk en onafhanklik te wees nie. “Dis vir my baie moeilik om so baie hulp nodig te hê.”
Haar droom is om ‘n onderwyser te wees. Sy was voorheen ‘n assistent by The Kings School in Witrivier en sal nou weer op so iets kan fokus.
