Agtjarige van Mbombela maak ‘n tasbare verskil om gemeenskap te help
'n Plaaslike gr. 2-seun het gesorg dat 20 gesinne vir die volgende maand kos het.

Leandro Rens (8) het met die hulp van sy ma, Marlene Meireles, ‘n advertensie op sosiale media geplaas en sowat R7 000 ingesamel oor ‘n tydperk van twee maande.
“Ons het geld van die land vol ontvang,” vertel Meireles. “Daar was selfs iemand van Oman in die Midde-Ooste wat vir ons geld inbetaal het vir die projek.” Witrivier Round Table het ook ‘n skenking gemaak. “In die vroeë stadiums van Leandro se insameling, het Witrivier Round Table ons gekontak en vertel dat hulle sy bedrag tot by R5 000 sal bring.
Op daardie oomblik was die bedrag in die omtrek van R3 600. ‘n Aantal van R5 000 was oorspronklik sy doelwit, maar na dié skenking wou hy kyk of hy nog meer kon insamel,” vertel Thea Rix. Leandro het Rix se hulp ingespan om kosprodukte te koop en gaan deur die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) die pakkies versprei.
“Leandro het al begin help in die begin van die grendeltydperk,” vertel Rix.
LEES OOK: Cyzelle Fincham: ‘Ek kon die hemel sien’
“Hy het ons gehelp om 85 komberse te koop en het my elke dag opgewonde vertel van wat hy daardie dag alles ingesamel het.”
‘n Mens kan dadelik agterkom dat Leandro ‘n hart het wat graag wil gee. Hy het ook 40 lekkernypakkies opgemaak en wou dit uitdeel vir die kinders, maar kon ongelukkig nie self dit doen nie weens die pandemie. Hy vertel dat sy volgende projek sal wees om elke hawelose in die dorp ‘n ete te gee op Kersdag.
Die gemeenskap word uitgenooi om Rix te kontak vir enige ektra bydrae by 082-771-2889.
