Geliefde onnie se afsterwe ’n reuseverlies vir Vlammies
Die gasvryheidstudies-onderwyseres is sedert 1989 aan die skool verbonde en het vinnig harte gesteel onder die personeellede, leerders en werknemers van die skool.

Hoërskool Bergvlam het ‘n groot slag beleef met die skielike heengaan van ‘n geliefde onderwyser, Karen
Britz, verlede Donderdag.
Die gasvryheidstudies-onderwyseres is sedert 1989 aan die skool verbonde en het vinnig harte gesteel onder die personeellede, leerders en werknemers van die skool.
“Daar sal nooit genoeg woorde wees om te beskryf hoe ‘n besonderse mens my ma was nie. Al was dit hoe moeilik, moes ek vrede maak daarmee dat sy nooit net vir my en my broer, Heinrich, ‘n ma was nie en dat ons haar met almal moes deel,” het haar dogter, Annie, gesê. Annie is vanjaar in matriek in Hoërskool Bergvlam.
LEES OOK: FOTO’S: Al die veld is vrolik vir senior burger stapklub
Volgens haar was Karen ‘n toegewyde mens wat baie kunstig was en hierdie passie in die kombuis uitgeleef het.
“Dit was haar spesiale plek en sy wou so graag leer skilder ook. Dis vir my hartseer dat sy nooit haar droom kon uitleef nie, maar as haar trotse kunstenaarkind sal ek hierdie droom vir haar uitleef.”
Annie sê haar ma was baie gelowig en het altyd die Here met haar saamgedra. Sy het haar kinders ook so grootgemaak.
LEES OOK: IN FOTO’S: Kolhaas beland in noodlottige luislanggreep
“Sy was ‘n vegter en ‘n kryger. Niks kon haar keer om haar drome te bereik en haar passie vir die onderwys uit te leef nie.”
Om as onderwyserskind groot te word het vir Annie en Heinrich baie beteken en hulle het oor die jare ‘n hegte band met die skool gesmee.
“Ons wil net dankie sê aan ons Bergvlamfamilie. Vir ons is dit meer as net ‘n skool. Dit is die plek waar ons grootgeword het.
LEES OOK: Barberton gemeenskap staan saam teen plaasmoorde
“Die leerders, personeel en werknemers sal altyd na aan ons harte wees,” het sy afgesluit.
Dis duidelik dat Karen se afsterwe ‘n groot leemte by Hoërskool Bergvlam gaan laat. In ‘n boodskap op sy Facebook-blad, het die skool haar vereer vir die groot rol wat sy in talle lewens gespeel het.
“Haar passie vir onderwys en veral vir haar vak het baie leerders geïnspireer om hul drome te bewaarheid deur heerlike en skouspelagtige kos te maak.
LEES OOK:Eerste verskyning vir twee verdagtes in die Gerrit Stander-moordsaak
“Sy was ‘n vriend, onderwyser, moeder en mentor vir talle leerlinge en ‘n legende. Die Bergvlamfamilie hou vir Annie en Heinrich in ons gebede en gedagtes terwyl hulle deur hierdie moeilike tyd gaan,” het die boodskap gelui.
Op Donderdag, het die skool ook ‘n huldeblyk aan hul geliefde Juffrou gebring nadat die skoolhoof, Deon Visser, die
hartseer nuus met die leerders gedeel het. Jacques Krüger het die Vlammie-gebed gelees en Org van den Berg het die klok gelui.
