Wonderwerk op wonderwerk vir klein MJ
Vandat hy op 2 September in Mediclinic Nelspruit gebore is, is sy lewe vol uitdagings.

Wonderwerk op wonderwerk en genade van bo is wat ons as ouers staande laat bly het. Só sê Adri Erasmus, ma van die twee maande oue baba, MJ. “Nadat MJ met agenese van die corpus callosum gediagnoseer is en daarom nooit op sy eie sal kan asemhaal nie omdat sy stembande verlam is, het dokters voorgestel dat ons hom na ‘n palliatiewe sorgsentrum oorplaas waar hulle hom so gemaklik as moontlik sou hou,” sê Adri. “Op 19 September moes ons ons moeilikste besluit nóg maak.
Ons moet klein MJ laat gaan. Dit is nie ‘n geen lewe vir ‘n kind om permanent aan ‘n ventilator gekoppel te wees nie.” Dokters kon geen waarborg gee dat hy ooit sou herstel nie.
LEES OOK: Komatipoort Voories triomfeer oor hoogste punt in die Krokodilpoort
Hy is toe geskuif na die palliatiewe sorgsentrum. Drie dae later gebeur daar wéér ‘n wonderwerk. “MJ lewe nog en hy het self begin asemhaal! Ons het dadelik gevra dat die voedingsbuis en suurstof terug gesit word.”
Op 23 September is hy oorgeplaas na Mediclinic Nelspruit waar hy in dr. Pierre Taljaard se sorg geplaas is. Daar is in die tyd ook ontdek dat MJ kraniosinostose het (waar die fontanelle te vroeg toegroei), wat beteken sy brein sal sukkel om verder te ontwikkel.
LEES OOK: Kolhaas beland in noodlottige luislanggreep

MJ is reeds van die suurstof verwyder die eerste week in Mediclinic en daarna het die spraakterapeut begin met voorbereiding om hom te leer hoe om te sluk en suig. “En weer beleef ons ‘n wonderwerk toe hy sluk en sommer ‘n hele bottel melk opdrink.
Die ortopeed het ook begin met sy voorbereiding om die klompvoetjies te behandel, hoewel hulle in die stadium sê dat dit slegs kosmeties sal wees en dat MJ heel waarskynlik nie sal kan loop nie.

Ons glo egter dat daar nog ‘n wonderwerk sal gebeur en dat hy sal kan loop.” MJ is op 5 Oktober ontslaan en sterk tans tuis aan, hoewel hy nog siek is. Sy breinontwikkeling sowel as sy fisiese groei sal beperk wees. “Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, ons leef een dag op ‘n slag. Ons glo en vertrou op die Here dat sy wil sal geskied.”
LEES OOK: Al die veld is vrolik vir senior burger stapklub
Die gesin het verlede Donderdag vir dr. Michael Lippert, ‘n pediatriese neuroloog, by die Unitas-hospitaal in Centurion gesien. “Lippert wil graag ‘n WES Genetics-toets in New York laat doen. Dit kos ongeveer R40 000.
Hulle stuur bloedmonsters van my, MJ en sy pa om getoets te word en dié toetse kan presies bepaal watter tekortkominge hy gaan hê,” sê Adri. “MJ gaan lewenslange professionele hulp nodig hê, daarom het ons ‘n trust gestig vir enige skenkings wat help met sy mediese onkostes.
“Ons bedank ons familie en vriende vir al hulle hulp en ondersteuning. Ons bedank ook elke liewe persoon wat ‘n skenking gemaak het om te help met MJ se mediese sorg en sy behandeling op die pad vorentoe. Ons is veral dankbaar teenoor dr. Taljaard wat altyd bereid is om die ekstra myl te stap! Hy is vir seker as ‘n engel vir kinders op hierdie aarde geplaas.”
Skenkings kan in MJ se trustrekening betaal word:
Doyer Prokureurs,
FNB-tjekrekening: 62636202442,
takkode: 250016,
verwysingsnommer: T0047/MJ Erasmus.
Bewyse van betaling kan gestuur word na yolandi.bosch123@gmail.com.
