Onooglike huis staan steeds, eienaar is nêrens te vinde
Dis vervalle, 'n absolute seer oog vir inwoners en dra beslis daartoe by dat die waarde van ons eiendom drasties verlaag.
MBOMBELA – Só mor Eric Dixon, ‘n inwoner van Cussonstraat, West Acres oor die onooglike huis wat nou al jare lank onvoltooid op die erf van Cussonsstraat 6 staan.
“Ek woon al 15 jaar hier en van daai dae af staan die plek nog leeg. Wat my frustreer is die stadsraad se oënskynlike laksheid om ‘n hofbevel wat die Mbombela-owerheid vroeër bekom het om die gebou te sloop, nie uit te voer nie.”
Die huis se dak het onlangs inmekaar getuimel en die erf word as ‘n rommelhoop gebruik, sê Dixon.
“Dit skep nie net ‘n brand- en gesondheidsgevaar nie, maar ander probleme soos sluipslapers wat snags in die huis intrek kan bydra tot misdaad.”
Dixon sê hy het reeds verskeie briewe aan die stadsraad gerig in ‘n poging om ‘n oplossing te kry. Hy is van die een departement na die ander gestuur en tans probeer hy om ‘n afspraak by die munisipale bestuurder te kry.
Laevelder het vroeër ‘n volledige berig oor die raaiselagtige huis gedoen. Dit behoort aan Rina Charles, ‘n voormalige hoof van die provinsiale gesondheidsdepartement.
Sy het destyds (1999/2000) die kasarm met die drie verdiepings begin bou, maar het die bouery later gestaak toe sy finansiële probleme ondervind het.
LEES OOK: ‘n Man met ‘n plan kry Nelspruiters betyds by die werk
Sy is onder meer betrek in ‘n grootskaalse ondersoek van tenderbedrog by die departement en is afgedank. Sy het destyds ook strafregtelike aanklagtes teen haar gehad. Rina het sedertdien verdwyn. In hierdie stadium weet niemand waar sy haar bevind nie, en die wat weet wil nie sê nie.
Haar skoonsuster, Mavis, is ‘n ANC-raadslid by Mbombela-owerheid. Sy het voorheen gesê sy het geen kontak met haar skoonsuster en weet ook nie waar sy is nie.
Joseph Ngala, woordvoerder van Mbombela, het vroeër bevestig dat die raad ‘n slopingsbevel bekom het, maar dat hulle dit nie kan uitvoer nie omdat Rina in ‘n regsgeding met die owerheid betrokke is.
Die uitvoer van die slopingsbevel lê nou al bykans 10 jaar onopgelos op die regsafdeling se tafel.
LEES OOK: Gielie Grapgat laat mense lag selfs al is tye donker
