KYK: Hulp gevra om jong kunsenaar VSA toe te stuur
Tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste het Drikus Claassens, 'n gr. 5-leerder aan die Laerskool Bergland, drie goue toekennings ontvang.

Hy vorm nou deel van Team SA wat volgende jaar in Nashville aan die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste gaan deelneem.
Die span bestaan uit 360 lede van tussen vyf tot 30 jaar oud. Dit is egter nie net sangers soos Drikus nie, maar ook mense wat modelwerk doen, sowel as dansers en akteurs.
Hy het al op negejarige ouderdom begin sing by sy voormalige laerskool in Warmbad. Volgens sy ma, Jana, het hy hier ‘n solo in die skool se revue los geslaan waarna sy juffrou gevra het of sy hom kan afrig.
Dis glo hier waar die gogga al gebyt het. “Hy was mal daaroor om op die verhoog te wees. Ons het hom eistedfodd laat doen en hy het oral in Warmbad gesing,” het Jana gesê.
Toe hy 10 jaar oud was het hy vir die eerste maal aan die SA’s deelgeneem, maar nie die span gemaak nie. Nóú, twee jaar later, is Drikus op pad na die VSA as verteenwoordiger van Mpumalanga.
LEES OOK: Laerskool Laeveld bemarker heet Mbombela totsiens
Selfs op sy jong ouderdom droom hy al van groter verhoë. “Ek sal baie graag eendag op groot verhoë wil optree soos by die Innibos Nasionale Kunstefees, en ek wil graag oorsee gaan volgende jaar. Lewis Capaldi is nou my gunstelingkunstenaar en ek hou baie van popmusiek.”
Tydens die kampioenskappe het hy drie goue en drie silwertoekennings gekry. Die liedjies waarmee hy goud ingepalm het was “Dorp Toe” deur Fatman, “Shotgun” deur George Ezra en “Roar” deur Katy Perry.
Drikus sing tans by Angel Voices Performing Studio onder Danielle Fisher.
Dit is sy droom om aan die Wêreld-kampioenskappe deel te neem wat gesien word as die Olimpiese Spele vir die uitvoerende kunste.
Elke lid van Team SA moet hul eie verblyf- en reiskostes dek, so indien enigiemand ‘n skenking wil maak om Drikus se Nashville-droom te bewaarheid, kan hulle sy ma, Jana, kontak by 078-911-0454.
