Spuit-en-gaan by CANSA Shavathon
Die CANSA Shavathon is al baie jare 'n bekende instelling, waar lede van die publiek hulle hare kan skeer of kleurvol laat spuit ten bate van CANSA.

“Dit is nie noodwendig ‘n groot byeenkoms waar mense die heeltyd moet bly nie,” vertel Monique Bornman, CANSA Laeveld se gemeenskapsmobiliseerder.
Bornman is van die mening dat die gemeenskap dalk versigtig is om sulke geleenthede te reël of by te woon as gevolg van die Covid-19-pandemie en die reëls en regulasies wat daarmee gepaard gaan.
“Celia van Wyk Kleuterskool het onlangs self hulle eie Shavathon gehou en die fondse aan CANSA oorhandig,” sê sy.
Bornman wil graag die plaaslike sakeondernemings en organisasies aanmoedig om dieselfde te doen.
“Sakeondernemings kan ‘n Shavathon-pakkie by CANSA koop om hul werknemers se hare self te skeer of spuit.
“Die amptelike CANSA Shavathon Corporate Week vind ook plaas van 1 tot 5 Maart, so daar is nog genoeg tyd vir almal om te beplan!” sluit Bornman af.
LEES OOK: Rangskik só jou pokergesig vir liefdadigheid
