Twee mense sterf in gru-botsing op Ohrigstad-pad
’n Toegewyde pa en ’n vrou “wat altyd gelag het” is op Woensdag 28 April net na 09:00 in ’n gru-ongeluk oorlede toe 'n bakkie en ligte motorvoertuig op die Ohrigstad-pad (R36) naby Krugerspos in ’n botsing betrokke was.

Twee ander mense is ernstig beseer.
Die oorledenes, Paul Kruger en Wanda Els, was in ‘n Toyota Corolla in ’n noordoostelike rigting op pad Ohrigstad toe. Jacques Botha (20) en sy vriendin Diané Dent (19), wat in ‘n Toyota Hilux gereis het, is tydens die botsing beseer. Hulle was onderweg na Pretoria nadat hulle die langnaweek by haar ouers op Hoedspruit gekuier het.
LEES OOK: Nellies-leerder behaal tweede plek in nasionale kompetisie vir visuele kunste
Die bakkie en motor se impak was van so ‘n aard dat die motor in twee geskeur is. Reddingskake is gebruik om die wrak oop te sny sodat nooddienswerkers Els uit die wrak kon haal. Kruger is uit die wrak geslinger.
Dent het na die tyd aan haar ma, Juanita van der Merwe, vertel dat alles so vinnig gebeur het en dat sy nie presies weet hoe die voertuie gebots het nie. Daar was egter op die toneel aanduidings dat slaggate ‘n rol gespeel het.
Dent is van die toneel per mediese helikopter na Mediclinic Nelspruit vir behandeling gehaas. Sy het bloeding op haar longe gehad, lewer- en nierskade, verskeie skeurwonde aan haar gesig en ‘n ernstige kniebesering.
“Ons het onmiddellik van Hoedspruit na die toneel gery en Jacques se ma, Sonet Botha, het van Pretoria af gery. Dit was ‘n verskriklike toneel om te aanskou. Beide families bedank Deon Broekman van N3 Rapid Response, Lydenburg SAPS, die Lydenburg Verkeersdepartement en ander nooddienste wat ons kinders se lewens gered en hulle bygestaan het,” het Van der Merwe gesê.
Naasbestaandes het Kruger beskryf as ‘n goeie mens en ‘n toegewyde pa. “Hy laat twee dogter, Lee-Ann en Melani, agter,” het een gesê.
Pieter Els, Wanda se man, sê sy het altyd gelag en was altyd bereid om haar naaste te help.
Els laat haar man en drie kinders, PJ (27), Chloé (23) en Chanél (15) agter.
Els is in ‘n persverklaring deur haar werkgewer beskryf as ‘n hardwerkende persoon wat altyd onthou sal word vir haar medemenslikheid.
“Haar vriendelike persoonlikheid en uitmuntende kennis laat ‘n groot leemte by die party,” het Jaco Mulder, VF Plus-LP en Gauteng-leier gesê.
