Nellie verskyn op internasionale voorblaaie
Amy Steyn spog met twee tydskrifvoorblaaie in Parys en New York na haar deelname aan internasionale skoonheidskompetisies.
Amy Steyn is ‘n naam wat waarskynlik nog baie in die skoonheids- en modelwêreld gehoor sal word. Dié matriekleerling van Hoërskool Nelspruit het onlangs internasionale aandag getrek nadat sy haar titel as Miss City Tourism World South Africa in Parys en New York verteenwoordig het.
LEES OOK: Mbombela-matriekleerder op pad na oorsese loopplanke
Amy het vroeër vanjaar groot sukses in die wêreld van mode en modellering in Parys behaal, waar sy aan modeskoue, fotosessies, netwerkgeleenthede en meesterklasse deelgeneem het. Sy het die geleentheid gehad om beeldskone uitrustings van die modehandelsmerk Minerva Paris te dra.

Sy het ook Cannes se IFCArts (International Forum of Performing Arts, Creation & Fashion) bygewoon, waar sy oor die pienk tapyt geloop het en aan die Top Model RStars en Révélation des Étoiles kompetisies deelgeneem het.
Daarna het sy na New York vertrek, waar sy aan verdere modeskoue en fotosessies deelgeneem het. Amy het reeds op van die internasionale loopplanke geloop waarvan talle aspirant-modelle droom. Sy het ook op die voorblaaie van twee internasionale tydskrifte in Parys en New York verskyn.

Haar model- en skoonheidsloopbaan is intussen verder versterk met haar prestasies by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap van Uitvoerende Kuns, waar sy as die algehele wenner en algehele modelwenner aangewys is. Sy is ook as die wenner van haar ouderdomskategorie, 18 tot 25 jaar, aangewys en het met verskeie goue medaljes weggestap.
LEES OOK: Lowvelder Got Talent’s Cara in the spotlight
Sy sit egter nie hier stop nie. Amy sal Suid-Afrika van 17 Desember tot 1 Januarie in China verteenwoordig, waar sy aan Miss Globe South Africa 2027 sal deelneem.
Haar modelloopbaan het in Julie 2025 by Timeless Modelling & Deportment Academy begin, waar sy haar talent vir modellering verder ontwikkel het.

“Ons is ongelooflik geëerd en trots om die geleentheid te hê om vir China presies te wys waartoe hierdie pragtige jong vrou in staat is,” sê Jacques Lombaard, uitvoerende direkteur van Timeless Modelling & Deportment Academy.
Amy het haar dank teenoor haar “modelfamilie” by Timeless Models uitgespreek en Lombaard, Ronell Joubert en Noelè McMaster bedank vir hul liefde, ondersteuning en geloof in haar.