Hou jou kalender oop vir Innibos-vermaak
Innibos Kunstefees woeker voort met ’n aantal opwindende projekte, al kan geen feesdatum weens Covid-19 nog aangekondig word nie.

Die derde Innibos In jou huis-konsert met die sanger Roan Ash word Saterdag 28 Mei gehou.
Dié maandelikse huiskonserte, in samewerking met kykNET en 100.5FM, het reeds in Maart met Jo Black afgeskop, en in April was Refentse aan die beurt.
Die konserte word regstreeks uitgesaai deur 100.5FM vanaf 19:00, en elke gasvrou en -heer skenk die toegangsgeld aan ’n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse, waaronder Cansa, Huis Betlehem, Dasha, Pro Gratia-skool en die Teaterbystandsfonds.
Op 26 Junie sal die pianis Charl du Plessis optree, op 31 Julie Jak de Priester en op 4 September is Elvis Blue agter die mikrofoon.
Skakel in op 100.5FM en beleef hierdie intieme kuierkonserte.
LEES OOK: Skrywer Chris Karsten kuier op Kaapsehoop
Die volgende maandelikse boekbekendstelling is op Saterdag 26 Junie om 15:00 by Nagkantoor in Kaapsehoop. Die radio-aanbieder en skrywer Ilse Salzwedel sal haar boek Floreer bekendstel, waarin die fokus val op veerkragtigheid en hoe om teenslae sinvol te oorkom.
Die koste is R50 en eksemplare van die boek sal ook te koop wees.
