Roan Ash kuier op Laeveldse voorstoep
Dié boorling van Pretoria het as deel van Innibos en Radio Laeveld se In jou huis-konserte 'n Laeveldse draai op 29 Mei kom maak.
Roan Ash het 50 van Marius en Lana Nel se gaste vir meer as drie ure vermaak.
‘n Regstreekse uitsending daarvan deur 100.5FM het gesorg dat Ash homself ook by vele luisteraars in die omgewing tuismaak.

“Die gaste het dit verskriklik geniet,” het Adelene Niehaus, bestuurslid van Innibos, gesê.
Ash s’n is die derde konsert wat tuis gehou word; hy volg Jo Black en Refentse op.
LEES OOK: Jo Black se voorstoepverskyning ‘n ervaring

“Die motivering daaragter is werkskepping vir kunstenaars, asook om Innibos relevant te hou in moeilike tye soos dié,” het Niehaus gesê.
Volgens haar is Innibos deurgaans besig met projekte wat die kunste lewendig hou, binne die bepalings van die wet.

“As ‘n kunstenaar is ek baie dankbaar vir geleenthede soos vanaand,” het Ash gesê. “Die bedryf kry swaar en die ondersteuning beteken geweldig baie.”
Dié konserte word deur kykNET geborg, tog het die gasheer van elke konsert onderskeidelik die geleentheid om skenkings aan te vra vir ‘n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse.
LEES OOK: Refentse maak sy verskyning binnenshuis met Innibos

Die Nel-huishouding het KANSA gekies. “Ons is groot ondersteuners van KANSA en die ongelooflike werk wat hulle doen,” het Marius gesê.
Charl du Plessis tree by die volgende In jou huis-konsert, 26 Junie, op.



