IN FOTO’S: Betty en Shenay skud hul vere vir die Laeveld reg
Hulle grootste doelwit? Om die wêreld en sy mense se ingesteldheid en perspektief te verander; een fopdosvertoning en een dorp op ’n slag.

Shenay O’Brien en Betty Bangles was verlede Dinsdag op die verhoog by Urban House met hul eerste vertoning van Tucked and Loaded, en het die Laevelders dít nou geniet!
Shenay en Betty, oftewel Thiart Li en Bernard Buys wanneer hulle van die verhoog af is, was self ingenome met die Mbombela-gehoor.

“Ek love Nelspruit, ek love die boere. Hier is so baie mooi mans hier, dit maak die werk sommer nog beter,” het Li laggend gesê.
LEES OOK: Hoërskoolskut verwerf gesogte platinumstatus
“Wat my hart die blyste maak is dat ’n gemeenskap wat ’n mens nie noodwendig dink oop sal wees vir so iets nie, ons so goed ontvang het en rêrig die vertoning geniet het.”

Buys het dit beaam en gesê die aand was fantasties. “Wat altyd vir my lekker is van die platteland, is dat dit iets nuuts is vir die mense. Dit voel altyd vir my of ek net die wêreld so ’n bietjie beter maak en vir mense wys dat dit net vermaak is.

“Ons doen dit nie omdat ons vrouens wil wees nie; dis vermaak. Jy kan lag en jy kan jouself geniet. En die lekkerste is die straight ouens in die gehoor wat altyd in die begin so ’n bietjie skrikkerig is en aan die einde van die aand geniet hulle dit die meeste.”

Tussen die twee vertoners is daar 22 jaar se fopdos-ervaring, maar hulle sê ’n mens leer steeds elke keer iets nuuts. Nie die gehoor of die vertoning is elke keer werklik dieselfde nie.
LEES OOK: IN PHOTOS: Scouts’ wetland clean-up a Youth Day success
Met die grendeltydperk en veral omdat die vertoning tydens internasionale Pride Month gebeur het, beteken dit vir Li en Buys soveel meer.
Li sê: “Die lewe is so depro en k*k op hierdie oomblik, jy wil letterlik net hê mense moet goed voel. As ons dit kan doen met ’n uur se vertoning waar mense net vergeet van wat daar buite aangaan, dan het ons ons doel bereik.
“In Jeugmaand en veral met die lockdown was daar soveel mense in situasies vasgevang wat nie ’n veilige LGBTQ+- spasie gebied het nie, so vir ons om dit in hierdie twee maande te kan doen en net eg jouself te kan wees, en vir ander mense te wys dis oukei om anders te wees, beteken so baie.”

Buys het die feit beklemtoon dat hulle wys jy kan jouself wees en ook daarvoor aanvaar word.
LEES OOK: Inventor has a burning desire to feed schoolchildren and inspire entrepreneurs
“Om in Mbombela ’n drag show te doen voor ’n gehoor wat 95 % Afrikaners en 80 % straight is, en mense geniet hulself en kom sê selfs na die tyd dankie, beteken amper meer as om in New York se strate in drag te kan rondloop.”

Hierdie was wel hulle eerste vertoning saam, maar dié twee is nog lank nie klaar nie. Die pret, vermaak en perspektiefveranderende opvoerings sal nog lank voortgaan.




















