Plaaslike skrywer stel haar eerste speurverhaal bekend
Maria Prinsloo se eerste speurverhaal, Bloed en Modder, vertel die storie van Irma Mulder, 'n Laeveld-joernalis wat haarself onverwags en onskuldig diep in die tonele van 'n grusame reeks moorde bevind.

Prinsloo het agt jaar gelede na Mbombela verhuis en as ‘n oordragtikster by ‘n prokureursfirma gewerk. Sy het later besluit om haar eie pad te volg en net op haar skryfwerk te fokus. Sy het op daardie tydstip reeds sewe motiveringsboeke as skimskrywer vir bekende internasionale skrywers geskryf en ‘n oudioboek vir kinders in 2009 vrygestel.
Prinsloo vertel dat sy besef het dat sy graag boeke onder haar eie naam wou skryf. “Ek het besef dat ek goed genoeg is, al dink ‘n mens so baie dat jy nie is nie. Dit het my laat besluit om my eie boek te skryf.”
Alhoewel sy motiverings- en kinderboeke geskryf het, het haar voorliefde vir reeksmoorde en speurverhale die oorhand met Bloed en Modder gekry. Sy het ook reeds twee opvolgboeke met Irma Mulder in die Laeveld in die pyplyn. “Ek het alreeds meer selfvertroue om die tweede boek te skryf,” sê sy.
Haar navorsingsproses is lank, maar op die ou end is die ses maande wat sy daaraan spandeer het, die moeite werd. Al is die boek fiksie, verseker sy dat daar geen feitelike foute is nie. Sy verwys selfs in die boek na bekende reeksmoordenaars soos Andrei Chikatilo, Ricardo Ramírez en Ted Bundy.
Prinsloo vertel opgewonde wat haar droom vir die boek is. “Natuurlik droom ek daaroor om so beroemd soos Dan Brown te wees, maar vir nou wil ek net hê dat dit ‘n lekker leesboek is vir moordliefhebbers.”
Sy het verskeie skryfkursusse al suksesvol voltooi en is tans besig met ‘n diploma in Engelse literatuur en skryfwerk.
Meer oor die boek
Irma Mulder is ‘n joernalis by die Tuis-koerant in Mbombela en is onvergenoeg met die vervelige stories waarop haar redakteur haar uitstuur. Voor sy egter kan bedank, word sy onverwags en onskuldig by ‘n moord ingesleep en beland sy holderstebolder in bloed en modder.
Intussen bekruip die onheil van haar verlede haar en is sy ontsenu deur die moontlikheid dat sy die oorsaak is van die onskuldige slagoffers se moord.
LEES OOK: Fred en Hannetjie Kinnear sal deur vele onthou word
Sy is nie net die reeksmoordenaar se enigste kontak nie, maar ook sy troefkaart. Is Irma deel van sy mediaspel of mag sy dalk die finale slagoffer wees om dit te voltooi? Sal die polisie daarin slaag om die reeksmoordenaar vas te trek of wag daar groter onheil op haar?

Die boek is beskikbaar op Naledi Uitgewers se webtuiste, www.naledi.online/shop, teen R220,
of per bestelling by Tersia by 078 648 8616.
