Leë verhoë beteken leë beursies vir kunstenaars
Alhoewel aansitetes by restaurante weer toelaatbaar is, is sosiale byeenkomste taboe en plaaslike kunstenaars byt die spit af.

“Die meerderheid het voltydse werk in ander sektore, maar daar is kunstenaars wat heeltemal afhanklik van vertonings is en geleenthede om kos op die tafel te sit,” sê Marlet van Wetten, die organiseerder van musiekgeleenthede en lid van die Small Town Music Group.
Tydens vlak 5 van die Covid-19-grendeltydperk in 2020 het talle kunstenaars aanlyn begin optree. Dit was nogtans nie voldoende nie, omdat baie mense finansieel in ‘n hoek gedruk was. “Selfs al is dit aanlyn, kos dit steeds geld om dit te reël,” sê Van Wetten.
“Mense soos ek wat hierdie konserte en vertonings reël, kan slegs inkomste verdien as daar geleenthede is, en as daar nie is nie, is daar ook niks vir my nie. Daar is ‘n nie spaarvarkie nie – wel, nie meer nie – om van te leef nie,” sê Van Wetten.

Die bekende Laeveld-kunstenaar, Natascha C, beskryf die huidige stand van sake as ‘n infeksie wat elke liewe konsert en funksie, groot of klein, stuk vir stuk besmet. “Al kan ek huiskonserte hou, is die risiko vir mense te groot en water alles stelselmatig af. In ons bedryf is dit so eenvoudig soos ‘no sing, no pay’,” sê sy.
LEES OOK: Die Longtom fotograwe haal uit en wys
Van Wetten moedig die gemeenskap aan om kunstenaars te ondersteun as hul beursies dit toelaat. Jy kan dit doen deur hulle musiekgroepe se T-hemde, albums of plakkers by hulle te koop.
Elke bietjie help om hierdie kunstenaars te onderhou totdat hulle hopelik gou weer na die grendeltydperk op die verhoog sal wees.
