Local newsNews

Oud-hotelier kom tot sterwe

'n Bekende inwoner, Leonie Ras, is verlede Donderdag, 5 Augustus, oorlede.

MBOMBELA – Leonie en haar man, Billy, het vir baie jare die bekende Paragon Hotel besit en was aktief betrokke in die gemeenskap. Nadat hul die hotel verkoop het, het die egpaar Sheppard Boutique Hotel geopen. Hulle het dié spoghotel 10 jaar gelede verkoop en toe afgetree.

Sy en Billy het in Januarie hul 52ste huweliksherdenking gevier. Die egpaar was besonders geheg aan mekaar en het dikwels genoem dat hulle nie net huweliksmaats was nie, maar ook mekaar se beste vriende.

Haar skielike afsterwe laat ‘n groot leemte vir haar gesin, en sy sal onthou word vir haar sagte geaardheid en hoe sy ander mense behandel het. Haar kinders, Jean-Pierre en Ilze, sê hul ma was die toonbeeld van ‘n ware dame en dat jy haar altyd deur ‘n ring kon trek.

LEES OOK: Skaars poskaart van Komatipoort kom in Nederland te voorskyn

Beide kinders wat in die hotelbedryf saam met hul ouers grootgeword het, sê dat sy altyd gesorg het dat daar genoeg tyd as familie saam spandeer word. Leonie was betrokke by plaaslike skole en het dikwels uitgereik om bystand te verleen, veral as daar kos gemaak moes word. “Maar sy het nie van die voorgrond gehou nie. My ma was altyd agter die skerms doenig en het verkies om op haar stil manier betrokke te wees,” vertel Jean-Pierre.

Leonie het longinfeksie opgedoen wat nie Covid-verwant was nie. Sy laat haar man Billy, Jean-Pierre, Ilze en vyf kleinkinders na. ‘n Erediens sal eerskomende Woensdag plaasvind en weens Covid-regulasies sal slegs naaste familie toegelaat word. Navrae kan aan Jean-Pierre by 079 119 9496 gerig word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button