Local newsNews

Beterskap op die horison vir Wihan na motorfietsongeluk

Dit gaan heelwat beter met Wihan de Jager byna ’n maand en ’n half nadat hy in ’n grutref-en-trapongeluk met sy motorfiets op die R40 betrokke was.

Wihan is ernstig beseer in die R40-ongeluk. Onder meer moes sy linkerbeen bokant die knie geamputeer word.

Die afgelope tyd was vir Wihan so tussen die boom en die bas. Hy is tans in Kiaat Privaathospitaal.

Hy sou op 21 Julie vir ’n operasie gaan om die wond aan sy geamputeerde been toe te maak. Hy moes egter dieselfde dag nog na die waakeenheid oorgeplaas word as gevolg van septisemie in dié been, lae bloeddruk, ’n bloedklont in sy long en lae suurstofvlakke.

LEES OOK: Oud-hotelier kom tot sterwe

Volgens sy ma, Willa, is Wihan uiteindelik op 30 Julie weer teater toe waar sy been eindelik toegewerk is. Hy is op 4 Augustus uit die waakeenheid oorgeplaas na die chirurgiese saal.

“Vandag is dag 47 in die hospitaal. Dit gaan heelwat beter met Wihan. Hy is nog op suurstof, maar hulle verminder dit stelselmatig. Sy infeksietelling lyk ook goed.”

Altesaam was Wihan nou al sewe keer in die teater; met vyf hiervan was dit nodig om die beenwond skoon te maak en stelselmatig toe te werk.

“Ons vertrou dat Wihan binnekort na M-Care oorgeplaas kan word, waar hy dan sy rehabilitasie sal doen voordat hy uiteindelik huis toe kan kom. Ons weet die pad wat ons gaan moet stap nie ’n maklike een gaan wees nie, maar ons sal sterk staan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button