Local newsNews

Kleintjie-kat tuis na vier maande se soek

“Daar is nog engele daar buite,” sê Janine Bisschoff na sy haar kat, Kleintjie, na meer as vier maande weer terug by die huis het.

“Daar is nog engele daar buite,” sê Janine Bisschoff na sy haar kat, Kleintjie, na meer as vier maande weer terug by die huis het.

Die Bisschoffs het op 24 April vanuit Claremont teruggetrek stad toe. Daardie Vrydagaand die 23ste, voor die groot trek, het Kleintjie nog doodrustig op haar stoel gelê en slaap.

Die dag van die trek was sy egter nêrens te vind nie. Kleintjie is twee jaar oud en die eerste kat wat Janine by die DBV aangeneem het.

“Sy is ’n baie spesiale kat, omdat sy my die dag van die aanneming by die DBV gekies het. Ek was dadelik verlief op haar.”

Met die vermiste Kleintjie in hulle gedagtes, moes die trek egter voortgaan.

Tussen haar en haar man was daar deurentyd iemand by die ou huis daardie dag, maar “met die laaste goedjies wat moes kom, het my man my gebel en gesê hy kry Kleintjie nêrens, en dat hulle al orals gesoek het.”

LEES OOK: Só hanteer ons ‘n slang

Die Bisschoffs se bure, Madelaine en Bertie Prinsloo, het toe ’n belangrike rol gespeel.

“Madelaine het my die Sondag gewhatsapp om te sê dat hulle by ons ou huis was en ’n vars gevangde muis by die agterdeur gekry het. Dit het my baie hoop gegee, maar hulle het orals gesoek en kon haar nie kry nie.

“Ek en Madelaine het verder elke dag kontak gehad oor Kleintjie.”

Die Bisschoffs en Prinsloos het in ’n kwessie van twee maande goeie vriende geword. Janine het vir hulle ’n kombers van haar seuntjie gegee sodat Kleintjie hulle reuk kon kry.

“Madelaine het telkemale vir Kleintjie kos uitgesit, maar kon haar net nie kry nie. Ek het selfs weer plaas toe gegaan om haar te gaan soek saam met sy en Bertie.”

LEES OOK: Oud-hotelier kom tot sterwe

Op 24 Junie het hulle ’n video van Madelaine af ontvang waarop Kleintjie tot by hulle heining gekom het. Ten spyte van hul pogings om haar met kos te lok, kon hulle haar nie gevang kry nie.

“Ek het toe begin dink dat sy dalk maar net ’n boskat wou wees.

“Op 5 Augustus het Madelaine my weer gewhatsapp om te sê dat Kleintjie nou by ander mense op die plaas kuier. Sy het hulle laat weet dat dit ons kat is en dat ons al ’n geruime tydjie gesukkel het om haar te vang.”

Sunet Ferreira (by wie Kleintjie so lekker gekuier en kos gekry het) het Janine gekontak om te vra of sy haar graag wou terughê.

Vandaar is reëlings getref en die kat is einde ten laaste 5 Augustus huis toe.

“Ek dink nie ’n mens kan daardie dankbaarheid beskryf wat jy het as jy jou geliefde kat terugkry na soveel maande nie.

“As dit nie vir Madelaine Prinsloo se goedhartigheid en lojaliteit teenoor ons en Kleintjie was nie, weet ek nie.

“Ek is ook ewig dankbaar teenoor Sunet Ferreira wat haar so oor Kleintjie ontferm het, so mooi versorg het en aan my terugbesorg het. Dit wys ’n mens dat daar nog engele daar buite is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button