Local newsNews

Weeskalf doodgeskiet voor bewaringstrust kon intree

Die bestuur van die Nasionale Krugerwildtuin is in die spervuur na die skietdood van 'n olifantkalf, ten spyte van die onderneming van 'n bewaringsgroep om die kalf op eie koste in hulle reservaat te huisves.

MBOMBELA – Die voorval, wat die bewarings-trust, Hoedspruit Elephant Rehabilitation and Development Trust (HERD), die harnas in gejaag het, het naby Shingwedzi plaasgevind, sê Ike Phaahla, die woordvoerder van SANParke.

Volgens SANParke is die ma van die kalf dood langs die pad aangetref, terwyl die kalf aan haar probeer drink het. Adine Roode van HERD het toe aangebied om die kalf onmiddellik te kom haal en op Hoedspruit te huisves.

“Ons span is in kennis gestel van die voorval en ons het al die noodsaaklike reëlings getref om die kalf in te neem, te huisves en te rehabiliteer,” sê ‘n woordvoerder vir HERD, Tamlin Wightman. Volgens HERD kon die kalf meer as 80% kans op oorlewing gehad het as hulle toegelaat was om so vinnig moontlik op te tree en die kalf te red.

Die bestuur van die wildtuin het egter besluit om voort te gaan en die kalf te skiet. Phaahla sê SANParke meng op beginsel nie in by diere wat wees gelaat is weens natuurlike oorsake nie.

“’n Dier wat wees gelaat is mag nie gered word en onder rehabilitasie geplaas word nie. Dit geld veral ten opsigte van groot diere en diere wat moontlik ‘n gevaar vir mense inhou,” sê Phaahla

LEES OOK: Só hanteer ons ‘n slang

Volgens hom was die feit dat die olifantkoei nie aan die hand van mense dood is nie, maar aan natuurlike oorsake, goed genoeg rede om die kalf te skiet.

“Die kalf was nog ‘n suigeling en het geen kans op oorlewing gehad nie. Die kanse is baie goed dat roofdiere die dier kon vang, of dit sou ‘n lang, lydende hongerdood sterf. Dit was net menslik om die kalf te verlos van verdere lyding,” sê Phaahla.

Maar HERD verskil heftig hiervan. Volgens Wightman het die kalf ‘n baie goeie kans op oorlewing gehad as hulle toegelaat was om in te tree.

“Dit is ‘n uiters sinnelose en tragiese voorval,” sê sy. Berigte oor die voorval meld dat die kalf geskiet is terwyl die veearts van Saving the Survivors, Johan Marais, besig was om telefonies reëlings met Roode te tref. Marais wou nie kommentaar hieroor lewer nie en het Laevelder na SANParke se verklaring verwys.

LEES OOK: Skaars poskaart van Komatipoort kom in Nederland te voorskyn

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button