Local newsNews

Leon is Agri Limpopo se Jongboer van die Jaar

Leon Lötter is pas aangewys as Agri Limpopo se Jongboer van die Jaar.

Die wenners is aangewys tydens Agri Limpopo se jaarlikse kongres op Dinsdag 17 Augustus; hierdie een was virtueel. Lötter het grootgeword in die Watersvalsriviervallei en het in 2009 aan die Hoërskool Lydenburg gematrikuleer. Na skool het hy tydelik op die plaas waar hy grootgeword het en sy pa met sitrus geboer het, gewerk. Daarna het hy sy dieselwerktuigkundige ambag gaan doen en in 2014 weer teruggekeer vallei toe om sy passie vir sitrus uit te leef. Hy en sy vrou Nanrie is in 2016 getroud en is geseënd met hul tweejarige seuntjie, Dawid.

Voor: Piet Engelbrecht (Agri Limpopo se president – Piet Citrus), Deidre Carter (Agri Limpopo HUB), (agter) Thinus van Zijl (Agri Gauteng), Johan Berg (Obaro), PP Roets (finalis, Groblersdal), Leon Lötter (Jongboer van die Jaar, Watervalsriviervallei), Hanlie Kroese (Santam Landbou), JJ de Nysschen (finalis, Letsitele), Lloyd Rogers (finalis, Letsitele), Herman Krause (Sanlam) en Nico Groenewald (Standard Bank).

Leon het in 2014 as ’n junior produksiebestuurder by Indigo Fruit Farming in Burgersfort begin begin werk. Passie, harde werk en uithouvermoë het daartoe gelei dat hy homself opgewerk het in ’n baie kort tydjie. Vandag is Leon die landboubestuurder van 750 ha land, waarvan die meerderheid sagte sitrus is, en 90 ha is suurlemoene. “Ek sal sê my liefde vir sitrus het gekom van my pa en my oupa, wat beide met sitrus geboer het. Ek is baie gelukkig om nog my oupa in my lewe te hê; hy het dié jaar 95 geword! My oupa het my geleer om hard te werk en te fokus op die kleiner dinge wat saak maak in ’n boerdery. Ek word gedryf deur ’n uitdaging, om vinnig ’n ingeligte besluit te kan maak om seker te maak die boerdery beweeg voorentoe. “As jy die basiese beginsels van jou boerdery goed toepas, is daar baie min wat verkeerd kan gaan,” het hy gesê.

Die finaliste by die fotosessie na die virtuele kongres. PP Roets, Leon Lötter, JJ de Nysschen en Lloyd Rogers.

Foto’s: Agri Limpopo

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button