Honde in sakke langs pad gevind
Die beeld van twee honde toegebind in sakke sodat net hul koppe uitsteek, is iets grensende aan 'n nagmerrie.
George Floyd, van Floyd’s Nook naby Jaap-se-Hoogte buite Lydenburg, het Sondag 15 Augustus laatmiddag op hulle afgekom. Hulle is langs die Roossenekal-pad naby die Sekhukhune-afrit gelos.
Floyd sê hy het stilgehou toe hy die sakke van ver af gesien het, maar kon nie glo die honde is so wreed gelos nie. Met die manier wat hulle toegebind was, kon hulle glad nie weghardloop vir voertuie of vir hulself gaan kos soek nie.
Lees ook: Leon is Agri Limpopo se Jongboer van die Jaar
“Een van die hondjies is ver swanger en ek dink die babas gaan vanaand nog kom,” het Cathy Schutte van Home4Paws Maandagmiddag gesê.
Volgens Schutte het sy ook Saterdag 14 Augustus twee basterhonde gaan oplaai langs die Longtompas. Een van die honde is maar ongeveer drie maande oud.
Schutte versoek die publiek om haar asseblief eerder te skakel om die ongewenste diere te verwyder. Dit is vir haar onmenslik hoe hierdie honde langs die pad gelos word. Skakel haar by 082 462 5754.
Lees ook: Soli ’n tuiste van respek en volharding in Jesus
