Local newsNews

Liefde blom steeds na 67 jaar Huweliksmylpaal vir Sias en Martha

Die twee is albei in die Sabie-omgewing gebore; Sias op 3 Mei 1931 en Martha op 27 Maart 1937.

Op 7 Augustus het Sias en Martha Koen ‘n mylpaal soos min behaal met die viering van hul 67ste huweliksherdenking.

Martha se broer was met Sias bevriend, en dís hoe die paartjie mekaar op Elandshoek ontmoet het.
Uit hulle huwelik is twee seuns en een dogter gebore. Hulle is verder geseën met sewe kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Hul dogter, Martie Purdon, vertel dat die twee nog graag hande vashou.  “My ma sê sy het my pa gekies omdat hy vir haar so ‘n mooi man was – en hy is nog steeds vir haar so mooi.”

Volgens Martie meen haar pa dat as ‘n verhouding werk, dan wérk hy; so eenvoudig soos dit.

LEES OOK: Ondernemings uitgedaag om by te dra tot bejaardes se kospakkies

Haar ma skryf die krediet vir die jare lange huwelik aan die Here, geloof, hoop en, natuurlik, liefde toe.
“My pa is ‘n kranige Laevelder-leser wat sy koerant by die huis ontvang. Hy lees elke liewe beriggie in daai koerant, en hy is ook die groot ou politikus hier rond.

“Hy luister elke liewe dag elke uur se nuus op Radio Laeveld, en hy sê gewoonlik vir my as ‘n karlisensie verval of as die petrolprys opgaan. Die twee is nog verskriklik skerp.”

Purdon het gesê die paartjie het hul herdenking hierdie jaar saam met haar met ‘n heerlike ete by Kingfisher Restaurant gevier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button