Druk op stadsraad verhoog ná rou riool steeds vloei
Die onaangename reuke wat om rivieroewers naby die Dorps-, Marambane- en Spekboomriviere hang, het die DA opnuut warm onder die kraag.
Volgens Spiros Couvaras, die DA-raadslid, het jare se wanbestuur daartoe bygedra dat dit steeds inwoners se lewensgehalte versuur. Behalwe die klagtes wat reeds teen die Thaba Chweu Plaaslike Owerheid (TCLM) aanhangig gemaak is, het Couvaras ‘n nuwe saak by die Lydenburg-polisie teen TCLM oopgemaak. Hierdie saak is vir die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998, artikel 49 A, (1) (e), (f). Sydney Masinga, die provinsiale DA se kommunikasiebeampte, het in ‘n verklaring gesê die tegniese span vir water en sanitasie het verskeie vakature. Volgens Masinga word geen poging aangewend om hierdie poste in hierdie moeilike tye te vul nie. “Die verskoning om ‘n nuwe begroting goed te keur, is onaanvaarbaar. Dit is befondsde posisies wat vakant is. Dit beteken dit word beplan en die salarisse word uit die inkomste van die munisipaliteit betaal. Verder sukkel die tegniese spanne met een voertuig en werk kan nie gedoen word nie. Hoe kan die inwoners swak dienslewering aanvaar as gevolg van swak bestuur of geen insig in die probleme wat in die gesig gestaar word nie? Ons waterverliese is op ‘n hoogtepunt van meer as 72%, en die inwoners betaal ‘n astronomiese bedrag vir dienste wat nie daar is nie,” sê Couvaras.

Riool- en sanitasieprobleme is ook aangemeld. Sommige riviere is na bewering besoedel met riool en is ongeskik vir menslike verbruik. In Steelburger/Lydenburg Nuus, Donderdag 29 Julie, is berig dat die omgewingsbestuursinspekteurs van die strafregtelike ondersoekafdeling onder Mpumalanga Omgewingsake (Groen Skerpioene) en Blou Skerpioene (onder die Departement van Water en Sanitasie) steeds verskeie terreine in en om Lydenburg ondersoek. Die saak sluit in Uitbreiding 2 en 8 se pompstasies, wat na bewering direkte besmetting van die Dorps- en Marambaneriviere veroorsaak. Sputnik Ratau, woordvoerder van die Departement van Water en Sanitasie, het gesê opsetlike of nalatige besoedeling van waterhulpbronne word beskou as ‘n oortreding ingevolge artikel 151 van die Nasionale Waterwet, 1998. Couvaras en die DA hoop dat die saak dringend aandag sal geniet, aangesien dit reeds vir jare onder die vaandel van befondsing weggevee word.
